’n Geleentheid met die tema “Take back our power, dream big” is op Maandag 17 Junie by die Laerskool Hoofweg in Wesbank vir jongmense aangebied.
Berenise Louw, organiseerder en stigter van Victorious Women Movement, sê sprekers van die polisie van Kuilsrivier en Kraaifontein, justisie, verskeie kerke en ’n onderwyser het die jeug bemoedig en oor geleenthede gesels.
“Ons besef nie altyd waardeur jongmense gaan en die ‘battles’ wat hulle moet baklei nie.”
Louw sê kindertydtrauma soos molestering hou vroue terug.
“Daar is prostitute met wie dit as kind gebeur het. Hulle voel waardeloos en dink hulle kan niks anders doen nie.”
Sy sê baie jongmense benodig hulp om uit ’n bose kringloop te kom wat van geslag tot geslag oorgedra word.
“Ouers gee nie altyd genoeg aandag nie.” Dikwels word van jongmense op 18 verwag om op hul eie voete te staan, maar hulle kort nog ondersteuning, sê Louw.
Die jonges het ook aan ’n rolspel deelgeneem waar hulle vrae in die “hof” moes beantwoord onder leiding van Tirelo Mtombeni van justisie.
Tydens pouse kon almal sop en vetkoek geniet.


