Dié fotoraam is in die Tygerberg-natuurreservaat opgerig.


’n Fotoraam is eindelik by die Tygerberg-natuurreservaat opgerig. 

Die raam is bo-op die heuwel opgerig met hoofsaaklik Tafelberg as agtergrond. Die raam is soortgelyk aan die ikoniese geel fotorame wat reeds reg oor die Kaap voorkom, insluitend die V&A Waterfront, Bloubergstrand, Seinheuwel in Kaapstad en Distrik Ses.

In Februarie vanjaar het Cheryl Visser, Wyk 1-raadslid, gesê sy is opgewonde om die goeie nuus oor hul nuwe projek met die publiek te deel. Visser is ’n lid van die Tygerberg-natuurreservaat se advieskomitee.

LEES OOK | Tygerberg-natuurreservaat kry binnekort ikoniese geel raam

Buiten Tafelberg sal besoekers ook Robbeneiland, Valsbaai en die Kaapse Vlakte as agtergrond kan geniet.

“Dit is ’n houtraam wat ontwerp is om mooi in die reservaat in te pas. Die nalatenskap-projek is gefinansier uit Wyk 1 se wyksbegroting.

“Ek vertrou dat besoekers die raam sal gebruik, wat sal help om die reservaat te bemark en meer mense na die park te lok. Ons beplan om volgende jaar ’n amptelike opening te hou,” het Visser verlede week aan TygerBurger gesê.

Sy het vroeër genoem dat die projek ook as ’n uitstekende opvoedkundige geleentheid sal dien vir oud en jonk van alle gemeenskappe. 

Wyk 1 het ook tevore ’n bydrae gemaak deur ’n uitkykpunt toeganklik vir mense met gestremdhede daar te skep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article