Die Hoërskool Tygerberg in Parow-Noord het by die MTBS-atletiekbyeenkoms vanjaar beïndruk met hul unieke tema, Uber Eats: Tiere Eats tydens die flashes. Die skool se atlete het ook goed presteer, beide op die veld en atletiekbaan.
Tamryn Booysen, een van die atlete, het die trofee vir Meisies Beste Prestasie in drie items ontvang, terwyl Ameer Smith, nog ´n atleet, op sy beurt die trofee vir Seuns Beste Prestasie, ook in drie items, ontvang het. Die atlete het ook ’n reeks goue, silwer en brons medaljes ingepalm.
TygerBurger se Richard Roberts het gaan uitvind hoe voorbereidings vir die MTBS 2025 gevaar het.
Tema: Uber Eats: Tiere Eats
Pawiljoenafrigter: Jesse Harmse
Hulppersoneel/Geeskomitee: Jarita van Zyl (hooforganiseerder en teken van flashes), Jesse Harmse (leer van flashes en dirigente), La-Né Hanekom (administratiewe werk) en Nicole Sakoor (dirigente).
Dirigente: Tyler Marnival (hoofdirigent), Zia Saaiman (hoofdirigent), Huda Hendricks, Yardan Cupido, Leah Jacobs, Erin Bates, Robyn Smith en Isaiah Swarts.
Tromspelers: Judah Adam Minords en Daniel Banza
Wat was die inspirasie vir hierdie tema?
Ons het probeer om ’n element te vind wat simplisties is, maar waarvan almal hou – en dis kos! Die illustrasie wat mens met kos kan maak is baie pret en uniek.
Hoe lank word daar al aan vanjaar se MTBS geoefen?
Die leerders oefen vir drie weke. Die eerste twee weke oefen hulle drie ure elke dag en die laaste week voor MTBS oefen hulle vier ure elke dag.
Is dit moontlik om te bepaal die hoeveelheid ure wat aan vanjaar se MTBS spandeer is?
Die leerders het al 50 ure aan die flashes gewerk. Die dirigente is elke middag by die skool tot 18:00 om voorbereiding te doen vir die volgende dag se flashes. Hulle het 95 ure gedoen.
Aan die skole met nuwe afrigters – wat het die afrigter gemotiveer om vanjaar se MTBS by die betrokke skool af te rig?
Die skool het tans geen nuwe afrigters nie.





