Die vriende en familie van ’n jong opkomende fietsryer van Bonteheuwel is steeds geskok nadat hy verlede week in ’n fietsongeluk gesterf het.

Calib de Kock (17) het in ’n motordeur vasgejaag toe ’n motoris die deur in Seepunt oopgemaak het.

Hy was ’n kranige fietsryer wat reeds op jeugdige ouderdom bewys het dat hy nog hoë hoogtes in die sport kan bereik.

Graham Hector, wat Calib reeds sedert 2017 ken toe hy in graad 4 was, sê almal wat Calib geken het se harte is baie seer.

“Hy was liefdevol, talentvol, bedagsaam, lojaal, entoesiasties en vriendelik en het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad,” sê Hector, wat ook Calib se afrigter by die Phoenix-klub was.

Volgens Hector was dit vroeg reeds duidelik dat Calib talentvol was.

“Hy en sy broer het uit die staanspoor gewys hulle het talent waarmee rekening gehou moet word.

“In ’n baie kort tyd en met min oefening het hy gou gewys wat in hom steek.

“Twee maande voor sy 17de verjaarsdag het hy die Kaapstad-fietstoer in 2 uur en 53 sekondes voltooi.

“Verlede jaar was hy ook lid van die Westelike Provinsie se o.17-span. Tot op hede was my fokus as sy afrigter meestal op die ‘genot van fietsry’,” sê Hector.

Drome gehad

“Ons was van plan om van hierdie maand af baie ernstig tyd en intensiteit in sy program in te werk.

“Hy het onlangs gesê dat hy nou die hoogste vlakke in die sport wil bereik en die nodige sal doen om sy drome te verwesenlik,” sê Hector.

Wat hy die meeste van Calib sal onthou, is die kuiertjies ná skool in sy klas.

“Ons het ook gereeld oor WhatsApp gesels en wanneer ons bymekaar was, het ons lang gesprekke oor die lewe gevoer. Hy het ook die Here Jesus as sy persoonlike saligmaker geken.

“Hy het die mooiste hart gehad. Al het sy familie geweldige uitdagings ervaar, het hy nog steeds na sukses gemik. Die jonger seuns in the fietsryprogram het só na hom opgekyk. Baie van hulle wou soos Calib wees,” sê Hector.

You need to be Logged In to leave a comment.