Elmario Maasdorp is vandag 23 jaar lank tronkstraf opgelê vir moord en nog 23 jaar vir verkragting.

richard roberts

Die vierde en laaste verdagte in die Valencia Farmer-moordsaak is vandag (2 Februarie) by die Blue Downs-landdroshof vir sy aandeel in dié gru-aanval gestraf.

Elmario Maasdorp (36), wat in September verlede jaar in hegtenis geneem is, is van moord en verkragting aangekla. Hy is vandag 23 jaar lank tronkstraf opgelê vir moord en nog 23 jaar vir verkragting. Die straf sal samelopend uitgedien word, sê ondersoekbeampte lt.kol. Eddie Clark.

“Die saak is uiteindelik afgehandel.

“ ’n Pleitooreenkoms is aangegaan waarmee die landdros tevrede is,” het Clark gesê.

Valencia (14) is 16 jaar gelede wreed aangerand en vir die dood gelaat. Sy is verkrag en meer as 50 keer gesteek. Haar keel is ook gesny.

Sy is vir die dood gelaat, maar kon voor haar afsterwe van haar aanvallers by die Tygerberg-hospitaal noem.

Die nuus oor haar dood is wyd deur die media gedek.

Die finale hoofstuk is egter gister finaal afgesluit. Iets waaroor Clark baie verheug is.

“Vir my gaan dit nie daaroor om krediet hiervoor te ontvang nie.

“Ek is net dankbaar vir die samewerking van die Blue Downs-ondersoekeenheid onder leiding van genl. Vincent Beaton wat gehelp het met die ondersoek.”

Die eenheid is op 1 Junie 2015 op die been gebring.

“Hulle het goed gedoen.”

Clarke sê hy gee alle lof aan die eenheid.

“Dis nou ook ’n geleentheid vir die ma (Sylvia Farmer) om sluiting te kry.

“Die saak is verby. Hy (Elmario) was die laaste verdagte. Daar is geen ander verdagtes wat betrokke is, wat nou meer hoef gevang te word nie,” sê Clarke.

Hy sê Valencia kan ook nou in vrede rus.

“Die straf wat Elmario opgelê is, het nog nie by my ingesink nie, maar ná soveel jare voel ek goed oor die straf.

“Die reg het geskied. Ek is sprakeloos, maar opgewonde.”

Hy sê die saak het hom vele slapelose nagte besorg.

“Maar ek is net bly dis nou alles verby,” sê Clarke.

Elmario Maasdorp is gister 23 jaar lank tronkstraf opgelê vir moord en nog 23 jaar vir verkragting.

Lt.kol. Eddie Clark was die ondersoekbeampte in die Valencia Farmer-moordsaak.

’n Groep vroue vier die nuus nadat Valencia Farmer se moordverdagte, Elmario Maasdorp, gister vir sy aandeel in die saak, gestraf is. Die man is 23 jaar lank tronkstraf vir moord en ’n bykomende 23 vir verkraging opgelê. Die straf sal samelopend uitgedien word.

You need to be Logged In to leave a comment.