Eversdal se skole smelt saam

Dit is amptelik. Die Pre-Primêre Skool Eversdal en die Laerskool Eversdal het hul kragte saamgesnoer en die nuwe skooljaar ingelui as een organisasie met een hoofdoel: “Om die gemeenskap te versterk.”.


Dit is amptelik. Die Pre-Primêre Skool Eversdal en die Laerskool Eversdal het hul kragte saamgesnoer en die nuwe skooljaar ingelui as een organisasie met een hoofdoel: “Om die gemeenskap te versterk.”

Dit is die sentiment wat op Maandag 13 Januarie by die opgekikkerde terrein van die pre-primêre skool in Mountainviewrylaan, Stellenberg, gedeel is toe die hoof, Elsjé van Zyl, met Gys Burger, hoof van die Laerskool Eversdal, sowel as personeel en bestuurspanlede van albei skole, die openingsgeleentheid saam gevier het.

“Ons het die laerskool en die pre-primêre skool nou saamgesmelt om hierdie gebied, saam met die Hoërskool Stellenberg te versterk en die basis te verbreed om die kinders meer ontwikkelingsgeleenthede te gun. Dit gaan oor die eenheid – daai gevoel van gemeenskap,” het Burger aan TygerBurger gesê.

“Die samesmelting is gerusstellend vir die gemeenskap omdat bande tussen die pre-primêre skool en die laerskool nouer gemaak word. Veral omdat ons waardestelsels ook so eenders is,” sê Van Zyl op haar beurt.

Ten spyte van die amalgamasie en opknapwerk aan die perseel, verseker Burger egter dat sake wat betref skoolgeld, taalbeleid en die Pre-Primêre Skool Eversdal, voorheen ’n privaatskool, se bedryfsmodel grootliks dieselfde sal bly.

“Die skole word steeds normaal bestuur – beste praktyk en kurrikulum en dit wat ons aan die leerders wil bied, dít is wat ons graag wil versterk.”

Die personeellede van die Pre-Primêr Skool Eversdal was vrolik en opgewonde in die splinternuwe speelpark om vanjaar se kleintjies welkom te heet. Op die foto is Heleen Wiles (ontvangsdame), Elsje van Zyl (hoof: Pre-Primêr Skool Eversdal), Marene Steyn (Geelklas), Luzanne Carstens (Oranjeklas), Marelize Swanepoel (Groenklas) en Leanthé Swart (Blouklas).

Van Zyl en haar personeel sien uit na die pad vorentoe.

“Dit mag dalk by tye vir ons ’n bietjie onseker gewees het omdat ons nou bou aan nuwe verhoudinge, maar ons doen hierdie vir die gemeenskap. Ons sien daarna uit om lekker te leer en mekaar aan te vul.

You need to be Logged In to leave a comment.