‘n Kaapse ma het geweet as sy haar seuntjie se hand los, sou hy in die ondergrondse tonnels verdrink.
“Dit was verskriklik. Ek het nie gedink ons sal dit ooit uitmaak nie,” het Elizma de Jager vertel nadat sy en ‘n groep vriende en hul kinders nouliks Saterdagoggend (10 Junie) ‘n vreesaanjaende fratsvloed oorleef het.
“Jy is ondergronds vasgekeer met water wat om jou styg. En die mense spoel weg. En jy’s onder die grond en jy’t hierdie kindjie wat jy moet probeer red.”
Elizma en haar sewejarige seun, Xander, het as deel van ‘n maat se verjaarsdagvieringe ’n ondergrondse toer van die tonnels onder Kaapstad by die Kasteel de Goede Hoop onderneem.
Die ses seuns wat die partytjie bygewoon het, is almal in graad 1 aan Laerskool Eversdal in die noordelike voorstede van Kaapstad.
Ses ouers het hulle vergestel en sowat 13 ander mense, waarvan die meeste toeriste was, het ook die toer onderneem.
Die tonnels dateer uit die sewentiende eeu en is glo gebruik om water vanaf Tafelberg en omliggende areas aan die Kompanje-tuine te verskaf.
Volgens Elizma sou hulle as deel van hul toerpakket eers die kasteel besoek, maar toe dit begin reën het hul toerleier gesê hulle gaan eerder eers die tonnels besoek.
Die water het egter gou al meer gestyg en al sterker geword.
“Op ‘n stadium het die boodskap gekom dat ons moet terugdraai, maar die water was op daardie stadium so sterk dat ‘n mens skaars die persoon langs jou kon hoor.”
Hulle het teruggedraai en die toerleiers het vooruit gehardloop. Elizma sê hulle was vreesbevange. “Die kinders het begin gil en die mense het paniekerig geraak.”
Die ouers het die seuns in hul arms getel en met hul geloop, maar selfs dit het moeilik geword met die stroom wat teen hulle beur.
Skielik het die stroom so sterk geword dat mense omgegooi en meegesleur is. Elizma en Xander het oor ‘n mede-ouer geval en is in die water gedompel, maar het weer opgekom.
Sy het gesien hoe die mede-ouer wegspoel en het geglo hulle almal gaan doodgaan.
Uiteindelik het iemand ‘n mangat naby hulle oopgemaak en hulle is gered.
Lede van hul geselskap het die mense wat weggespoel het, gaan soek. Hulle is verder, by ‘n ander mangat, gekry en gehelp.
Baie van diegene wat ondergronds was het ligte beserings opgedoen. Elizma sê hulle is nog styf en seer soos die water hulle gestoot het.
“Ek is net so dankbaar ons is veilig. Dit kon soveel erger gewees het.”
Sy sê dit is egter die ses seuns wat vir hul braafheid geprys moet word.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê nooddiensbeamptes is omstreeks 11:45 na die toneel ontbied. “Niemand word vermis nie en die oorsaak van die fratsvloed is nog onbekend.”