’n Erg-ontbinde liggaam is gister (Dinsdag, 4 Oktober) uit die plaasdam op die Clearwood-landgoed in Joostenbergvlakte aan die noordelike voorstede van Kaapstad deur die polisie se duikeenheid getrek, nadat werkers oor etenstyd ‘n blou plastieksak op die dam sien dryf het.
‘n Werker van Wallacedene in Kraaifontein wat anoniem wou bly, het gesê die liggaam het al begin ruik toe dit uit die dam getrek is.
“Ek en my maat wou net onder die bome gaan sit om die hitte van Dinsdag te ontduik, toe ons die blou plastieksak op die dam sien dryf. Omdat die dam sigbaar is van die N1, het ons na die sekuriteitswagte op die N1 gehardloop en hulle van ons vonds vertel. Hulle het op hul beurt die polisie by Kraaifontein gebel en die polisie se duikeenheid het die liggaam uit die dam kom verwyder,” het hy vertel.
Volgens een van die sekuriteitswagte moet hulle gereeld saans paartjies uit die area verjaag, want dit is ’n gewilde plek vir paartjies en hul liefdes-eskapades.
Een van die werkers van Wallacedene het bygevoeg dat die liggaam vermoedelik aan ’n vrou behoort. “Haar bolyf was kaal en sy het net ’n broek aangehad,” het hy gesê.
Kaptein FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die erg-ontbinde liggaam van ’n 28-jarige vrou in die blou plastieksak was. Die oorsaak van haar dood word ondersoek.