Shaun Flandorp het seker gemaak 'n man op pad werk toe kry sy besittings terug.
Shaun Flandorp het seker gemaak ‘n man op pad werk toe kry sy besittings terug.

‘n Man van Elsiesrivier word as ‘n held geëer nadat hy ‘n man gehelp het wat deur ‘n straatrower beroof is.

Shaun Flandorp, ‘n gemeenskapsaktivis wat in sy ma se agterplaas woon, sê hy was by die toilet toe hy die getoeter van motors hoor. “Toe dit stiller word hoor ek toe ‘n gestoeiery en ek besluit om op my braai te staan en oor die muur te kyk. Ek was besig om TikTok-video’s te kyk, dus was my foon in my hand. Toe ek oor die muur loer sien ek die toneel wat voor my afspeel. Gewoonlik neem ek alles wat in my straat gebeur met my foon op wat, ek besluit toe ook om die voorval op te neem,” sê Flandorp.

Shaun Flandorp betrap ‘n straatrower op heter daad.

Wat hy toe sien het hom geskok, maar hy doen toe wat hy gereeld doen. “Die rower was al besig om die slagoffer se sokkies uit te trek. Hy het toe reeds die geld en die selfoon gevat. Ek ken al die skurkies hier rond en ek het die een ook herken. Toe hy my sien wil hy nog mooi met my praat, maar ek het hom begin skel. Hy het toe die slagoffer se besittings teruggee en die slagoffer wou aanstap na sy werksplek. Uit ondervinding weet ek toe dat die rower net sal wag tot hulle buite sig is, dan sal hy weer die arme jong man aanval en ek besluit toe om te sê hy moet eerder oor my muur spring sodat ek hom werk toe neem.

Mes teen keel

“Onderweg het hy my vertel dat die rower ‘n mes teen sy keel gehad het, maar ek het nie daai gedeelte afgeneem nie. Die arme ou het gebewe van die skok en ek het hom by sy werksplek gaan aflaai en my selfoonnommer gegee. Ek het gesê hy kan my enige tyd bel as hy in die moeilikheid is,” sê Flandorp.

Flandorp sê hy dink nie hy is ‘n held nie, maar hy hoop dat almal wat van sy storie hoor dieselde vir iemand anders sal doen. “As elke ou net ‘n ander een te hulp sal snel sal ons gemeenskappe veilig wees. Ons het die liefde vir ons medemens verloor en ons moet dit terug kry,” sê Flandorp wat oral in sy gemeenskap ‘n hand uitsteek om te help.

Hy het die video van die voorval op TikTok gelaai waar dit al duisende kere gesien en gedeel is. In die kommentaar-afdeling spreek mense die wens uit dat daar meer mense soos Flandorp moet wees.

You need to be Logged In to leave a comment.