Elke haartjie val in sy plek vir D’ville-stilis

Dit was nooit die plan om in haar ma se haarkappervoetspore te volg nie, maar vir ’n jong haarstilis van Durbanville het die meetsnoere reg in plek geval.


Dit was nooit die plan om in haar ma se haarkappervoetspore
te volg nie, maar vir ’n jong haarstilis van Durbanville het die meetsnoere reg
in plek geval.

Mia Crous (24), wat so te sê grootgeword het met ma Erina
wat eers klas in haarkappery gegee het en die afgelope 12 jaar ’n haarsalon van
haar huis af bedryf, vlieg op 27 September na Toronto, Kanada. Daar gaan sy
teen 419 ander haarkappers meeding in die Goldwell KMS Global Zoom 18 World
Artist-kompetisie. Sy het haar pad vanuit die staanspoor na dié prestigeryke
kompetisie geplavei met ’n hele rits prestasies.

Mia, ’n oud-Durbie, het ná skool in 2013 besluit om ’n
kursus in haarkappery by die Northlink-kollege te studeer tot sy besluit het
wat sy met haar lewe wil doen. Haar loopbaan het egter vinnig vlerke gekry toe
sy reeds in haar tweede jaar die een na die ander kompetisie by die kollege
begin wen het. In 2015 het sy ’n derde plek in haar eerste kompetisie, die WP
World Skills Championships, behaal en verras toe almal toe sy by die National
World Skills Championships in Kaapstad as die algehele wenner aangewys word. Sy
is toe gekeur om Suid-Afrika in Augustus 2016 in São Paulo in Brasilië by die
wêreldkompetisie te gaan verteenwoordig. Dit was ’n taai jaar, want sy moes
elke naweek heen en weer Johannesburg toe vlieg vir opleiding.

Sy het ook in haar tweede jaar saam met studente van
Northlink-kollege deelgeneem aan ’n jaarlikse vriendskaplike internasionale
kompetisie teen die Stockport- en Kendal-kolleges in London. In haar derde jaar
het hierdie twee kolleges weer na Suid-Afrika gekom en Mia het in beide hierdie
kompetisies skoonskip gemaak. In 2015 het sy die junior afdeling van die
Employers Organisation for Hairdressing, Cosmetology and Beauty (EOHCB) se
Westelike Provinsie-kompetisies gewen. Vanjaar in Mei het sy die senior
afdeling van dié kompetisie gewen.

Mia het ook nege maande in die Lotus Spa op die Golden
Princess-passasierskip gewerk en is onder meer gekies om in Sydney, Australië
die hare en grimering te doen vir ’n verfilmingsessie. Sy is ook gebruik vir ’n
TV-advertensies en het die hare en grimering gedoen vir ’n verfilmingsessie van
die Cameo-reek van Young Designers Emporium (YDE).

Vanjaar het sy in samewerking met Modern Hair, Wella en
Aubrey Loots, ’n bekende internasionale stilis, agter die skerms gewerk aan
modelle se hare vir die Cape Town Fashion Week. By nóg ’n geleentheid het sy
saam met MAC Cosmetics modelle se grimering by die Cape Town Carnival gedoen.
Sy neem ook sedert 2014 deel aan Kansa se shavathons.

Mia is vanjaar aangewys as een van die top5-finaliste in die
“new talent”-kategorie van die Color Zoom Challenge SA kompetisie. Foto’s van
hul werk is in Duitsland beoordeel om die wenner te bepaal – niemand minder as
Mia nie!

Sy is nou druk besig met voorbereidings vir haar deelname
aan die Goldwell KMS Global Zoom 18 World Artist-kompetisie in Toronto. Sy word
vergesel deur haar model, Nicky Novyava, oorspronklik van Rusland.

Haar kunstige streep hou nie by hare op nie – sy skilder
ook, bak en maak sedert sy klein is juweliersware. Sy hou ook van
avontuursport. Stem vir haar by goldwell.com/stylistsfavorite.

You need to be Logged In to leave a comment.