Só word ek aanvaar vir my meestersgraad, en ek besluit ek gaan my studie rig op iets wat my baie na aan die hart lê: taal en identiteit. Want ek glo taal is nie net ‘n kommunikasiemiddel nie; dit is deel van wie jy is.
Ek glo ‘n mens moet trots wees op jou identiteit, en met jou kop omhoog loop omdat jy weet wie en wat jy is. Dit vertel jou storie. Jou komvandaan. Jou menswees.
Maar weet ons regtig wie en wat ons is?
Natuurlik moet my navorsing ‘n invalshoek hê. En waar anders om te begin as by Thabo Mbeki se ikoniese “I am an African”-toespraak? Want hoekom sou ek nie my studie heg aan ‘n politieke toespraak wat só magtig is dat dit jou hele ideologie kan verander nie?
Maar dan begin ek wonder: hoe kon ons 30 jaar gelede so met oortuiging sê “Ek is ‘n Afrikaan”, en vandag sukkel ons om dit hardop te sê?
Hoekom voel dit vandag amper ongemaklik, selfs vreemd, om daardie stelling met trots te maak? Ek meen ek is ‘n Afrikaan. Jy ook, as jy hier in Suid-Afrika gebore is.
Hoekom verwys ons dan net na sommige mense as Afrikane? Hoekom het dit ‘n ras- of taalmerk geword? Hoekom glo ons as jy nie Xhosa, Zulu, Sepedi of Sesotho praat nie – of as jy nie swart is nie – dan is jy nie ‘n Afrikaan nie?
Hoekom sluit ons onsself só maklik uit van daardie term?
Dalk is dit die regering wat dit laat geskied, want hoekom word rasseklasifikasie aangedui as of “African, Coloured, White or Indian”? Wat sal gebeur as ek die African-blokkie tiek? Gaan ek uitgeskel word, of gaan daar ‘n prentjie gevorm word van wie ek is wat heel anders gaan lyk as ek gaan opdaag? Dit fassineer my. Dink net daaroor, iets wat baie eenvoudig moes wees, is nie. Ons het almal lae wat ons identiteit beïnvloed. Geskiedenis oor jare heen. En dit kom alles te neer op “Ek is ‘n Afrikaan”.
Ek het eenkeer besluit om iemand doelbewus uit haar gemaksone te haal. Sy sê vir my: “Die Africans hou van oorvat.” Ek vra toe: “Is jy dan nie self ‘n African nie?” Sy sê: “Nee, ek’s ‘n kleurling.” (As ek hier ‘n oogrollende emoji kon sit, sou ek, want wat bedoel jy?)
“Wat bedoel jy?” vra ek. En sy sê net: “Jy weet mos wat ek bedoel …” Ja, ek weet. Maar dis presies dít wat my pla.
My pa het my altyd gevra: “Wil jy eers ‘n African wees wanneer jy Amerika toe gaan?” En dit laat my dink — diep dink. Hoekom is dit so maklik om jou identiteit daar te eis, maar hier waar jy vandaan kom, skaam jy jou daarvoor?
Ek is gebore in Afrika. My naelstring lê diep doer in die grond van Xhasland en Kgalagadi, tussen die Khoi en die San. My storie is geskryf in die wind van die Karoo, die golwe van die Oos-Kaap, die reuk van ‘n reënbui in die Vrystaat.
“Ek is my bestaan verskuldig aan die heuwels en die valleie, die berge en die ooptes, die riviere, die woestyne, die bome, die blomme, die oseane en die ewigveranderende seisoene wat die aangesig van ons geboorteland vorm.” – Thabo Mbeki
Hoekom, as iemand sê ‘n African girl, dink jy aan iemand wat glad nie soos ek lyk nie? Iewers het ons ‘n fout gemaak. En iewers moet ons dit regmaak.
Ons moet dit regmaak vir onsself, maar veral vir ons kinders. Ons moet vir hulle leer dat jy nie eers jou vel of taal hoef te verander om jou plek in Afrika op te eis nie.
Ons moet begin anders dink en anders doen, want anders weet ek nie, maar in elk geval.
My naam is Jo Fourie. En ek is ‘n Afrikaan. Punt.
– Jo Fourie

You must be logged in to post a comment.