Ek het ‘n broertjie dood aan … Kaaps!
Ek ken nie mense wat so “pratie” en die plekke waar ek dit hoor, is gewoonlik by een van die drie groepe wat na my mening teen wil en dank hierdie mismaaksel tot volwaardige taal wil verhef.
Die eerste groep het dit net-net deur gr. 2 of -3 gemaak en ken gewoon nie ordentlike taal nie. Die tweede groep is kwasi-skrywers wat desperaat ‘n kortpad na erkenning soek, en die derde groep is die akademici wat desnoods om den brode iets moet vind om ‘n verhandeling of so iets oor voor te lê om hul bestaan te regverdig.
Kyk, my voorouers, en joune ook, het hulle vrek gesukkel om uit die warboel tale hier in die Kaap ‘n lingua franca te prakseer. Uit die Hollands, Duits, Frans, Engels en natuurlik die Khoi-tale is ‘n gangbare dialek saamgevoeg. En hulle het mekaar verstaan.
En toe trek ‘n groep van hulle oor die berge en hulle verfyn hom nog verder. En die Genootskap van Regte Afrikaners en diesulkes timmer verder aan hom en siedaar: Afrikaans!
En nou, vandag, beur ‘n groep terug na die voortyd. Onthou u: Ons skryf soos ons praat? Paterjots! Kombuistaal ens. Om hierna terug te gaan, is mos agteruit boer. Of hoe?
Bowendien is taalverskynsels soos assimilasie en nasalering mos bloot gewoon en nie die oorsprong van ‘n nuwe taal nie. Dis mos immers soos ‘n mens natuurlik praat.
Boonop is daar ‘n groot gros wat eenvoudig nie anders kan as om ”n Engelse woord te gebruik nie waar ons egte eie woorde het. Alles is gedurig “amazing”! “Ek love dit!” “Cool, man.” Morsig!
Moenie praat van die sangers nie, askies, “kunstenaars”! Daar is geen kuns aan hul geskrou, gebrom of gemompel nie. Nog minder is die geradbraakte geklets en gebrabbel enigsins die woord “taal” werd. Boonop help die kastige stasie met die goeie nuus in die Kaap hoegenaamd nie om behoorlike taalgebruik te bevorder nie.
Dan verwys ek nie eens na die kamstige pastore, priesters en profete wat soms boodskappe lewer nie! Party van hulle se taal is genoeg om my ore in die nek op die breë weg te plaas!
Die meeste omroepers self is heeltemal onbeholpe as dit by korrekte taal kom. Bou nou ‘n nasie met ‘n taal om op trots te wees met sulke mense! Boonop lyk dit asof die jongspan al die moontlike doen om die taal op te mors!
Gee regtig nie ‘n flenter om nie! Die sepies dra ook niks by met hul taal nie!
Nee kyk, ek sê dit prontuit: Ek weier om Nathan Trantraal en sy meelopers se skryfsels te lees. Gee maar vir my die Rapport se “Woorde wat wip” en “Kletsgras”. Dís mos Afrikaans! En vir die res het ons darem vir Breytenbach, Brink, Meyer, Dalene Matthee, Dana Snyman en dies meer. Dankie daarvoor. Lank lewe Afrikaans!
‘n Waarskuwing: as hulle so voortploeter net erkenning wil gee aan al wat taal is, pasop vir die dag wanneer die Namakwalanders aan die deur klop vir erkenning! Hemele behoede ons.
En ek is nie “iewens wittie”.
Ou Toppie, Rouxville, Kuilsrivier