Van Maandag 25 November tot Dinsdag 10 Desember neem talle Suid-Afrikaners weer deel aan die jaarlikse veldtog 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders.
Ter herdenking van dié veldtog het TygerBurger onlangs met ’n oorlewende gesels oor haar stryd as ’n slagoffer van geweld en as ’n dwelmverslaafde.
Tatum Rose (40), ’n haarstilis van Elsiesrivier, deel môre (Donderdag 21 November) ook haar storie op Radio Tygerberg se oggendprogram Lééf met Liomee Vosloo.
Sedert die mishandeling het sy en haar gewese man se paaie geskei, vertel sy.
Mishandel
Die paartjie, wat saam op skool was, het mekaar weer raakgeloop toe Tatum 22 jaar oud was en het in ’n verhouding getree. Sy vertel dat hulle hul eerste kind enkele maande daarna gehad het en dat hulle kort daarna getrou het.
“Hy het my begin mishandel twee maande nadat ons getrou het. Eers het hy my geklap net omdat sy pa nie na ’n braai by ons huis gekom het nie, daarna het hy my aangerand vir geen rede,” sê sy.
Tatum sê sy het besluit om in die verhouding te bly om haar huweliksbeloftes na te kom en het ook ingestem om ’n seksslaaf te wees en tik te gebruik, net sodat hy haar nie sou los nie.
“Ek is as ’n Katoliek grootgemaak met ’n streng geloofkultuur, wat nie skei toelaat nie. My man het my verneuk,” vertel sy.
Volgens haar het die dwelms haar gehelp deurdat dit haar aandag afgelei het van wat werklikwaar aan die gebeur is.
“Daai tyd het ek geglo dat as ek sy siek fantasieë en onmenslike seksuele begeertes kon bevredig, dat ek in staat sal wees om ons huwelik te red en ons kinders veilig met albei ouers kan grootword.
“Dit was moeilik om nugter te wees; hy het erger geword en het die mees uiterste eise gestel. Baie keer as ek hom nie wou hê nie, sou hy ’n ultimatum daarstel en dreig dat hy my kinders sou neem en die regering sou sê dat ek tik gebruik.”
Sy sê sy was verslaaf aan haar mishandelaar. Die keerpunt het egter gekom toe haar kinders glo ook mishandel word.
“Een dag het hy ons seun geslaan en ek het myself gevra of ek dit aan hulle gaan toelaat. Ek het kerk toe begin gaan en het my kinders saamgeneem. Ek het begin bid, en God het my gehoor. Ek het myself begin verdedig en hom teruggeslaan. Ek was nie meer stil nie. Ek het besluit om op te staan, anders sou my kinders ook slagoffers wees van dit waardeur ek gaan. Ek het ’n werk gekry en hom gelos,” vertel Tatum.
Vryheid
Haar stryd was egter nog nie oorwin nie.
Volgens haar het haar man die seuntjie gehou, en sy beweer dat sy ook nie veel hulp by die polisie ontvang het nie. Sy is hof toe gesleep, waar haar man glo leuens oor haar begin versprei dat sy hom mishandel het, maar God se genade het haar deurgedra, sê sy.
“Ek is in staat om my kinders sonder sy geldelike hulp groot te maak. Dit is net God se genade wat ons deurgedra het. God het aan my pragtige kinders gegee en ek glo dat die trauma van om sonder ’n pa groot te word, uiteindelik deur God se teenwoordigheid genees sal word. Hy sal hul Pa wees, vir ewig.”
Dwelmvry
Tatum is reeds vir die afgelope 12 jaar dwelmvry en sê dis alles te danke aan God wat haar gelei het.
Sy deel ook raad aan ander vroue wat hulself dalk in ’n soortgelyke posisie bevind.
“Aan ander vroue, wat dalk ook vasgevang is, wil ek sê, glo wat God oor ons sê: ‘vroue is in staat’.
“Staan op en hou op om jouself te bejammer, want die lewe wag vir niemand nie. Raak wakker, voordat dit te laat is. God sal voorsien. Moenie in die plek bly net omdat jy daar moet wees nie.”
Tatum bestuur tans ’n haarsalon. Sy het ook vir 11 jaar as ’n aptekerassistent gewerk en was ook ’n sekretaresse by ’n privaatskool in Elsiesrivier.
“Die Here is goed vir my. Amen,” sê sy





