Sy het eintlik “heel toevallig” in die biblioteekwese beland, maar van die eerste dag wat Wilhelmina Whitman (toe vars van die skoolbanke) by die Ravensmead-biblioteek begin werk het, het die passie begin groei.

Verlede week het die Kuilsrivier-biblioteek afskeid geneem van Whitman (60), die hoofbibliotekaresse van die afgelope sewe jaar. Donderdag 30 Junie was haar laaste werksdag ná ’n loopbaan van 42 jaar tussen die boekrakke.

Sy kon werk tot 65, “maar ek wil nie krom wees nie”, sê sy oor die besluit om die blad om te slaan vir die eerste hoofstuk van aftrede.

Whitman vertel die toeval het dit so bestem dat sy ná ’n onenigheid met die raad dat sy verskoning moet gaan vra, ook van die pos by die Ravensmead-biblioteek gehoor het.

Vir die onderhoud by die destydse Parow-munisipaliteit was daar ’n paneel van sowat 20 mense, onder wie die stadsklerk, onthou sy.

Sy het dadelik tuis gevoel en sê vir haar was dit altyd, “eerste mense, dan boeke”.

“Ek het ’n natuurlike aanvoeling vir mense. Vir my gaan dit oor help waar jy kan. Ek kan ’n behoefte gou identifiseer.”

Só is vrywilligers met potensiaal, wat sy aangespoor het om kwalifikasies te kry, aangestel. Nie almal het teruggekom om dankie te sê nie.

Een wat vir haar uitstaan, is Bronwyn Mogapi. “Sy het my na haar gradeplegtigheid genooi.”

Ná 26 jaar by die Ravensmead-biblioteek is sy na die Adriaanse-biblioteek in Clarke Estate. “Die nege jaar daar was die hoogtepunt van my loopbaan.”

Whitman sê hoewel ’n mens kan dink dit is onveilig, was die gemeenskap baie beskermend en die biblioteek soos ’n oase.

By Adriaanse het sy ’n senior bibliotekaresse geword. Kort voor sy daar weg is, het dié biblioteek drie toekennings gekry. Die eerste, waarvoor sy die nominasie geskryf het, was ’n nasionale kompetisie waarin hulle bekroon is as die “beste mediumgrootte openbare biblioteek”.

“Net daarna het ons ’n kliëntediens-toekenning vir biblioteke en nog een vir dienslewering van die subraad ontvang.”

Op dié hoogtepunt, en ook op 30 Junie in 2015, het sy Adriaanse gegroet en die Kuilsrivier-biblioteek se hoof-bibliotekaresse geword.

In die tyd by Adriaanse het Whitman deeltydse studies aangepak. In 2012 op 50 kry sy haar B.Bib graad – omstreeks dieselfde tyd as haar dogter, Kim, wat ’n LLB-graad voltooi het.

Een van die vreemdste herinneringe het by die Kuilsrivier-biblioteek gebeur toe iemand kom sê het daar is iets vreemds aan die gang.

“Toe ons gaan kyk, sit daar ’n man poedelnakend op sy knieë. Ons het die polisie gekry om hom hier uit te vergesel.” Sielkundig was ’n skroef los en Whitman sê daar is baie mense “met uitdagings”.

’n Plaaslike hoogtepunt was die Kuilsrivier-biblioteek se 60ste verjaarsdag in 2017, wat oor twee dae gevier is met ’n formele geleentheid met eregaste, asook ’n kermis en markdag.

Whitman is onlangs op die Vriende van Kuilsrivier-biblioteek, ’n ondersteuningsgroep, se jaarvergadering as ondervoorsitter verkies. “Ek kan nie net hierdie passie verlore laat gaan nie.”

Tydens die pandemie het baie van die biblioteek se projekte bietjie platgeval, sê sy. Die breigroep kom nou weer bymekaar en doen ’n weeklikse uitreik na Happy Valley.

Terwyl Whitman Vrydag besig was om kantoor op te pak het TygerBurger met Patricia Blouw, Charleen Willemse (albei assistent-bibliotekaresse) en Pearl Ngobeni (kinderbibliotekaresse) agter die toonbank gesels.

“’n Wilde-mina,” het Blouw met ’n laggie gesê oor die idees waarmee Whitman vorendag sou kom. “Sy staan vir niks terug nie.”

Willemse het beaam: “’n Go-getter.”

Hulle gaan haar onthou vir haar menslikheid, iemand wat altyd bereid was om te luister en niemand sou wegwys nie.

Blouw vertel “net toe Covid so bietjie begin lig het”, het ’n taamlik verslonste man by die biblioteek ingekom en Whitman vir ’n drukkie gevra.

“Sonder dat sy hom skeef aangekyk het, gee sy hom toe ’n drukkie. Dit het sy dag gemaak. Hy het hier uitgestap met so ’n breë smile. Hy het gesê hy kon nie glo dat so ’n mooi vrou vir hom ’n drukkie gegee het nie.”

Die personeel gaan haar baie mis. Haar deur was altyd oop – nie net vir raad oor werk nie, maar ook persoonlike goed, sê hulle.

Whitman was gesteld daarop dat dinge reg gedoen moet word, maar sou dit op ’n mooi manier oordra. “As jy nie ’n ding die eerste keer verstaan nie, sou sy twee, drie, vier keer weer verduidelik. En as jy nog nie verstaan het nie, kom maar weer terug,” sê Blouw.

Al was Whitman die oudste, sê die personeel sy was die mees bedrewe met rekenaars.

Sy het hulle bemoedig deur te sê: “Jy leer soos jy aangaan, elke dag, en ons leer van mekaar.”

Quinton Silvester, sekerheidswag, sê Whitman is ’n baie goeie vrou met ’n baie goeie hart.

“Daar was ’n tyd toe ek ’n stroke gehad het – sy het gekom van haar huis af en my Tygerberg-hospitaal toe geneem. Dit was nie eintlik haar plig nie; sy het my baie verras.”

Ook vir hom was sy daar om te luister en raad te gee. “As ek ’n probleempie het, dan sorteer sy altyd my probleempies uit. Ek gaan haar verskriklik mis – ons almal, die hele Kuilsrivier gaan haar mis.”

Silvester sê omdat ’n mens nie net kan ontvang nie, het hy ook probeer om Whitman “op die hande te dra, soos sy met ons maak”.

Zach Rawoot, biblioteekassistent, sê vir hom staan Whitman se passie vir mense uit. “Sy het altyd ’n simpatieke oor en ’n breë skouer. Ek dink nie daar was al ooit iemand wat sonder ’n glimlag by die biblioteek weg is nadat Wilhelmina met hulle gesels het nie.”

Daar was verlede week heelwat trane en veral die laaste werksdag het swaar op haar hart gedruk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article