Die polisie in Goodwood ondersoek ‘n saak van strafbare manslag nadat ‘n motorfietsryer Donderdagaand op die N1-snelweg in ‘n motorongeluk dood is.
Daar was drie motorvoertuie en ‘n ligte motorfiets by die ongeluk betrokke, sê kapt. Wayne Theunissen, woordvoerder.
Die ongeluk het omstreeks 21:20 op die N1 net onder die brug by die Monte Vista-afrit plaasgevind.
Al die voertuie was in die rigting van die Paarl op pad toe die ongeluk gebeur het.
Die bestuurder van die motorfiets, ‘n 32-jarige man, is op die toneel dood verklaar.
Theunissen sê die oorledene se naam, van en adres is aan die polisie bekend, maar dat sy naasbestaandes nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.
“Ons kan nog nie presies sê wat die ongeluk veroorsaak het nie,” sê Theunissen.
Volgens hom het die ongeluk plaasgevind tydens beurtkrag in die gebied.
“Geen ander mense is in die ongeluk ernstig beseer nie,” sê Theunissen.


