Die verdagte in die moordsaak van Suritha Alting (28) van Richwood het verlede week in die Goodwood-landdroshof verskyn.
Die saak is tot gister uitgestel.
Die Bothasig-polisie het in sy oorspronklike verklaring gesê twee verdagtes van onderskeidelik 42 en 18 jaar oud is aangekeer ná Alting se moord.
Hulle is op Vrydag 18 November in Dunoon in hegtenis geneem. Dit het egter aan die lig gekom dat die een verdagte 17 jaar oud is.
Minderjarige in arres
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die een en enigste verdagte minderjarig is.
“Die beskuldigde is ’n 17 jaar oue minderjarige oortreder wat van moord aangekla word. Daar word beweer dat hy die oorledene twee keer met ’n mes gesteek het. Hy word tans in die Pollsmoor-gevangenis se jeugsentrum aangehou,” sê Ntabazalila.
Die verdagte het gister (Dinsdag 29 November) weer in die hof verskyn vir ’n formele borgtogaansoek.
“Daar is slegs een beskuldigde in die saak. Meer verdagtes sal waarskynlik bygevoeg word soos wat die ondersoek voortduur,” sê Ntabazalila.
Die slagoffer is op Saterdag 12 November in die vroeë oggendure in Sylviastraat naby die De Zicht-landgoed in Richwood aangeval.
Sy is kort daarna dood.
Rolspelers byeen ná moord
Verlede week het Cayla Murray, kiesafdelingshoof vir Durbanville-Blaauwberg 2, aangedui dat sy en die provinsiale minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, en die wyksraadslid Miquette Temlett met die bestuur van die Bothasig-polisiekantoor vergader het om dié misdaad te bespreek.
“Op die vergadering is ons op hoogte gebring van die ondersoekwerk. Ek wil die polisie en wetstoepassers prys vir hul gesamentlike pogings wat gehelp het om die verdagte aan te keer.”
Volgens Murray het die groep ook die gebied wat die Bothasig-polisie dek, bespreek. Daar is vasgestel dat dié gebied oor die jare heen uitgebrei het.
“Soos dinge nou staan, word De Zicht en Burgundy, sowel as die ander nuwe ontwikkelings in dié gebied deur die Parow-polisiekantoor bedien, wat verder weg geleë is as die Bothasig-polisiekantoor,” sê Murray.
Die Bothasig-polisie het hom daartoe verbind om met die organisasie-ontwikkelingseenheid van die polisie daaroror te praat om sodoende die grense te heroorweeg sodat reaksietye verbeter kan word, sê Murray.
Die moordsaak word deur sers. Jonathan Kriel van die Bothasig-polisie ondersoek.


