Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het toestemming verleen dat die Laerskool Mikro van volgende jaar af met een Engelse graad R-klas met maksimum 30 leerders kan begin.
Die beheerliggaam het ouers Maandag daaroor ingelig en benadruk dat hulle steeds glo dit is in die skool se beste belang om by die veranderde omgewing aan te pas.
Die skool se skriftelike aansoek om die taalbeleid van enkelmedium (Afrikaans) uit te brei na parallelmedium (Afrikaans en Engels) vanaf Januarie volgende jaar, is vroeg verlede maand by die departement ingedien.
Die Engelse graad R-klas kan in 2026 aanskuif na die eerste Engelse graad 1-klas.
LEES | Lees die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier
Met nuwe graad R’s wat jaarliks sal inkom en die vorige klas wat aanskuif, word daar dan geleidelik tot parallelmedium-onderrig in elke graad oorgeskakel.
Die Afrikaanse graad R-leerders sal in drie ander klasse geakkommodeer word.
Ouers is meegedeel dat onderrig in Engels steeds op Mikro se vyf kernwaardes geskoei sal wees, naamlik: mededeelsaamheid, integriteit, kreatiwiteit, respek en omgee.
Proses
Die oorskakeling word as ’n proses beskou met geen drastiese veranderinge in die vooruitsig nie.
Louis Mouton, skoolhoof, sê die aansoeke en plasings vir Mikro se eerste Engelse graad R-klas sal deur die onderwysdepartement se stelsel geskied.
Die skool het in sy aansoek vir die ondersteuning van die onderwysdepartement gevra wat betref onderwysposte, leermateriaal en infrastruktuur. Mouton sê Mikro het genoeg graad R-poste (vier) op hul nuwe diensstaat vir 2025 ontvang.
Hy sê vir volgende jaar is daar genoeg ruimte vir al vier graad R-klasse.
LEES OOK | Mikro dien aansoek in om Engels in te faseer
“Die leermateriaal sal ons hoofsaaklik self kan voorsien vir 2025. Daar sal dan verder met die departement onderhandel word vir die jaar daarna, wanneer dié klas na graad 1 beweeg.”
Mouton sê Mikro ontvang ook ’n subsidie van die onderwysdepartement vir al vier die graad R-klasse vir volgende jaar.
Die gesprekke om Mikro se taalbeleid te verander het vroeër vanjaar begin met die vooruitsig van wysigings aan onderwyswetgewing – die sogenaamde Bela-wet (“Basic Education Law Amendment Bill”).
Pres. Cyril Ramaphosa het die wet verlede Vrydag onderteken maar hy het die implementering van die klousules oor taal- en toelatingsbeleid (waarteen die DA en verskeie organisasies beswaar gemaak het) vir drie maande uitgestel om “onderhandeling” toe te laat.
Beheer oor toelatingsbeleid
Klousule 4 van die Bela-wet gee die onderwysdepartement meer beheer oor die toelatingsbeleid en klousule 5 bepaal dat die beheerliggaam die taalbeleid en enige verandering daaraan vir goedkeuring na die provinsiale onderwyshoof moet verwys.
LEES | Laerskool Mikro se taalbeleid onder soeklig
Dr. Lou Hofmeyr, voorsitter van die beheerliggaam, en Mouton het dit voorheen egter duidelik gemaak dat die Bela-wet nie die enigste oorweging is om Engels by Mikro in te faseer nie.
Die skool se dalende Afrikaanse leerdertal (van 1 011 leerders in 2017 tot 849 vanjaar), finansiële uitdagings, ’n toename in Engelse leerders in die omgewing en druk vanaf die onderwysdepartement (wat plek vir leerders in skole moet vind), het tot die besluit bygedra.





