Een persoon is dood en nog twee is beseer in ’n motorongeluk op Giel Basson-rylaan in Goodwood. Die ongeluk het Sondag (26 Januarie) gebeur.
Die private ambulansdiens ER24 het op die noodoproep gereageer. Volgens dié diens was slegs een voertuig, wat gerol het, by die voorval betrokke.
Ineke van Huyssteen, ’n ER24-woordvoerder, sê met hul aankoms kort voor 19:30 was ’n ambulans van die provinsiale Metro EMS-ambulansdiens reeds op die toneel. “Drie pasiënte het buite die voertuig gelê. Een het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” sê sy. Die twee oorlewendes het geringe beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hulle na ’n hospitaal vervoer is, sê Van Huyssteen.
Van Huyssteen sê die presiese omstandighede rakende die voorval is onbekend aan hul paramedici, maar voeg by plaaslike owerhede was wel op die toneel.


