Eben Jacobs hamergooier in aksie.
Eben Jacobs, ‘n matriekleerder aan die Hoërskool De Kuilen en lid van die DK-hamergooi-akademie, is in die SA span opgeneem wat aan die Afrika-atletiekfederasie (CAA) se o.18- en o.20-Afrika-kampioenskap in Abeokuta, Nigerië, gaan deelneem.

Eben Jacobs, ‘n matriekleerder aan die Hoërskool De Kuilen en lid van die DK-hamergooi-akademie, is in die SA span opgeneem wat aan die Afrika-atletiekfederasie (CAA) se o.18- en o.20-Afrika-kampioenskap in Abeokuta, Nigerië, gaan deelneem.

Die kampioenskap vind van 16 tot 20 Julie plaas.

Eben se insluiting in die span is te danke aan sy goue medalje by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Suid-Afrikaanse Jeug- en Junior Kampioenskapsbyeenkoms vroeër vanjaar in die Groenpunt-stadion. Hy het ook vanjaar die silwermedalje by die SA Hoërskole-kampioenskap in Bloemfontein verower.

Beste in ouderdomsgroep

Eben het hom die afgelope drie jaar as die top-hamergooier in sy ouderdomsgroep in die land bewys. In 2023 en 2024 het hy die goue medaljes by die SA Hoërskole-kampioenskap as o.17-atleet verower.

Hy het ook in 2023 ‘n bronsmedalje by die ASA SA Kampioenskap verower. Eben het die 2023/24-seisoen met die beste afstand in die land in sy ouderdomsgroep afgesluit.

Dit was egter die oorwinning in Groenpunt vanjaar wat die geleentheid geskep het om sy land te verteenwoordig, aangesien die nasionale span slegs op grond van uitslae in ASA-kompetisies, en nie skolekompetisies nie, gekies word.

Eben mik ook om vir die o.20 Wêreldkampioenskap in Eugene in Oregon in die VSA in 2026 te kwalifiseer.

Leon Spies, sy afrigter, sê hy is reeds baie naby aan die kwalifiserende afstand om gekies te word.

“‘n Goeie vertoning by die Afrika-kampioenskap sal net soveel meer as motivering dien.”

Leon Spies, afrigter

“Ons beoog om aan die einde van die jaar aan verskillende kompetisies reg oor die land deel te neem om Eben soveel kans moontlik te bied om vanjaar reeds te kwalifiseer,” sê Spies.

Vir nou fokus Eben eers daarop om teen die bestes van Afrika mee te ding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article