Die Ravensmead-polisie het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hulle te help om rowers wat e-taxi’s teiken, vas te trek.
Volgens kapt. Odwa Makupula, woordvoerder van die Ravensmead-polisie, was daar sedert Julie ’n drastiese toename in voorvalle waarin e-taxibestuurders beroof word.
“Dit het aan die lig gekom dat iemand ’n e-taxi bespreek. Wanneer die taxi opdaag, klim twee mans in – die een agter en die een in die passasiersitplek langs die bestuurder. Wanneer die motor begin beweeg, gryp die een wat agter sit die bestuurder om die nek en die ander een sal hom van geld en selfone beroof. Albei sal dan weghardloop,” sê Makupula.
In ander voorvalle sal die bestuurder se aandag deur die aanvanklike twee afgetrek word, waarna ’n ander groep die motor sal nader.
“Hierdie groep sal dan die bestuurder met ’n vuurwapen of ’n mes dreig en hom beroof. Selfs maatskappye wat kos aflewer, word nou geteiken. Terwyl die bestuurder vir die kliënt wag om sy kos af te haal, word hy aangeval en beroof,” sê Makupula.
Makupula sê die rooftogte gebeur meestal tussen 13:00 en 17:00 en saans tussen 18:00 en 23:00.
“Die voorvalle vind in verskillende dele van Ravensmead plaas, veral in De la Reystraat, Uitsig, Annondalestraat, Eureka Estate, Coloradostraat, Overdalestraat, Cravenbystraat, Galwayweg, Ashfordstraat en Connaught Estate,” sê Makupula.
“Ons het die gemeenskap se hulp nodig om hierdie booswigte vas te trek,” sê hy.
- Bel AO Riaan September by 021 933 900 of 082 302 3257 met inligting.


