Denver van der Bergh hardloop oor die eindstreep by verlede jaar se Comrades-marathon.


’n Man van Kaapstad gaan later vanjaar die Comrades-marathon hardloop, maar voordat Denver van der Bergh dié gewilde jaarlikse padwedloop aandurf, gaan hy eers die sowat 1 500 km van Kaapstad na Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal pak ten bate van liefdadigheid.

Hy gaan in Mei die tog, genaamd Serenity Run, aanpak, waarna hy die Comrades se 90 km-ultramarathon gaan voltooi. “Ek beoog om my verhaal van hoop te deel en om geld vir liefdadigheid in te samel,” lui sy boodskap op sy Back-A-Buddy-veldtog, waar mense kan geld skenk.

Van den Bergh, ’n voormalige dwelmverslaafde, beoog om geld in te samel vir Ramot, ’n behandelingsentrum vir dwelmafhanklikheid in Parow waar hy ondersteuning en hulp ontvang het in sy stryd teen dwelms. Ramot het aangedui dat hulle sy tog steun.

In ’n brief onderteken deur Johannes Janse van Rensburg van Ramot, dui die sentrum aan dat die geld gebruik sal word om individue in nood, wat dit nie kan bekostig nie, met professionele hulp te ondersteun, sowel as vir programme wat daarop gemik is om bewusmaking oor dwelmmisbruik te skep.

Van der Bergh was met sy 48ste verjaarsdag in Februarie vanjaar vyf jaar dwelmvry ná ’n verslawing van 25 jaar.

Verslawing

“Iemand het my ’n helpende hand gereik en deur middel van ingryping het ek in ´n rehabilitasiesentrum geëindig waar my hele lewe verander het, ten goede.”

As jongman het hy op die Kaapse Vlakte grootgeword, waar hy op ’n vroeë ouderdom aan dwelms blootgestel is. Hy vertel dat hy ook aan verskillende tipes dwelms bekendgestel is – van Mandrax tot dagga en kokaïen.

“Dit het begin as pret met sigarette, drank en nagklubs, en uiteindelik dwelms. Ek het gedink dis reg, dat ek net pret het en dat ek enige tyd sal kan stop. Ek was verkeerd. Ek het probeer ophou, maar kon nie. Ek het selfs oorsee gereis om myself uit die omgewing te verwyder.”

Hy vertel dat hy in ’n stadium hoop verloor het. Hy het ook al sy vriende verloor en op ’n punt alleen dwelms begin gebruik. “Ek het vasgevang gevoel, omdat ek te skaam was om te erken dat ek ’n probleem het, en omdat ek nie my familie en myself in die verleentheid wou stel nie,” vertel Van der Bergh.

Hulp

Hy was egter gelukkig nadat iemand hom ’n helpende hand gereik het, waarna hy in Ramot in Parow opgeneem is.

“Rehabilitasie het my lewe verander. Dit was die teenoorgestelde van wat ek verwag het. Ek het waardevolle lewenslesse geleer. Ek het geleer dat ek hulp nodig het, en dat ek nie in staat is om dit self te doen nie. Daaglikse aktiwiteite by Ramot het my weer soos ’n mens laat voel en my in staat gestel om net te kan sit en stilletjies dink oor wie ek is, en hoe ek weer vir myself kan sorg,” vertel hy.

Hy kort ná sy behandeling in 2020 tydens die Covid-19 pandemie en grendeltyd besluit hy wil die Comrades aandurf – ’n idee wat hy aanvanklik as ’n grap afgemaak het toe hy begin oefen het en meer gereeld begin draf het. “Die draf het my gebalanseerd gehou.”

In 2024 het hy sy eerste Comrades voltooi, binne 10 uur en 40 minute.

“Ek het besluit dit gaan nie daar stop nie,” sê Van der Bergh.

Hy voeg by: “Ek het besef dat my verhaal ander kan inspireer en dat ek my storie van hoop moet versprei. Ek het ook besef dat iemand standpunt moet inneem en bewusmaking skep teen die stigma oor rehabilitasiesentrums en verslaafdes.”

Hy het daarom besluit om die tog tussen die Kaap en KwaZulu-Natal aan te durf. “Geregistreerde rehabilitasiesentrums is bitter duur en daarom het ek besluit om die wedloop te benut om geld in te samel vir diegene wat nie professionele hulp kan bekostig nie.”

Van der Bergh beoog om R500 000 in te samel en teen Maandag was dié bedrag R14 050. Hy sê die geld sal mense in nood help, veral diegene wat nie toegang tot professionele bystand het nie.

Hy sê die tog behoort hom sowat 35 dae te neem om te voltooi. Hy sal deur sy broer Marlon van der Bergh ondersteun word, sowel as sy afrigter, Christene le Roux.

Die Comrades vind op Sondag 8 Junie plaas.

Besoek http://www.backabuddy.co.za/campaign/serenity-run

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article