Die Bellville-polisie se volgehoue operasies by die berugte Parksig Villas werp telkens vrugte af, amper soos mens dié dwelms wil beskryf wat daar letterlik uit die grond gehaal is.
Ao. Henriëtta van Niekerk, dié kantoor se woordvoerder, sê twee van hul beamptes het juis gisteraand (Donderdagaand, 6 Oktober) daar waarnemingsdienste gaan doen toe hulle ’n dwelmverkoper raakgeloop het wat sy geheime voorraad uit ’n gat in die grond gaan haal het.
“Gisteraand was sersante Trevor Doubell en Juanita Smit besig met waarnemingsdienste by Parksig Villas. Hulle ’het toe ‘n onbekende man gesien wat dwelms uit die grond uitgrawe,” vertel sy.
“Doubell het hom toe verder dopgehou en gesien hoe die man die dwelms gaan verkoop aan die publiek.”
Het was dit einde niet, vertel Van Niekerk.
“Die verdagte het toe vir ’n tweede keer teruggegaan na die plek in die grond en weer dwelms uitgehaal. Doubell het toe in daardie stadium vir versterkings geroep,” sê sy. Twee van hul ander lede het gereageer en op die toneel opgedaag.
“Vandaar het die beamptes die verdagte vasgetrek in sy kar toe hy uit Parksig Villas wou ry. Hy was besig om die dwelms wat hy by hom gehad het, te vernietig,” sê sy.
“Hulle het hom toe na die gat in die grond gevat waar hulle nóg dwelms uitgehaal het.”
Van dié smokkelgoed sluit in mandrax-tablette, tik en dagga met ’n straatwaarde van sowat R10 000.
“Die verdagte is van Nigerië en woon in Bellville. Hy is 30 jaar oud. ’n Saak van handel in dwelms is oopgemaak en die verdagte sal op Maandag 10 Oktober in die hof verskyn.”
Dwelmverskaffers raak ál slimmer, of hoe? Vertel ons wat jy dink by briewe@tygerburger.co.za.