Dwelms van R916 000 is gisteraand (Maandag 17 Oktober) om 19:30 in Kraaifontein gekonfiskeer nadat polisielede verbonde aan die Khayelitsha-reaksieeenheid ‘n dwelmsmous aangekeer het.
Lede van die span het ‘n wenk opgevolg toe hulle ‘n grys BMW in Kromboomstraat, Scottsville, opgemerk het. Toe die bestuurder die polisie sien, het hy weggejaag. ‘n Wilde jaagtog het gevolg, maar die polisie kon daarin slaag om die voertuig te stop.
Altesaam 31 000 mandrax-tablette is in die BMW gevind en ‘n 26-jarige man is aangekeer en verskyn op 19 Oktober in die landdroshof in Kuilsrivier op aanklag van die handel in dwelms.