Die graad 6-leerders (van links) Ethan Voges, Tanatswa Chisadza en Danielle Kitshoff met Max, die Eko-vegter Engelse Bulhond, word verdwerg deur die sakke tekstiel.
Die graad 6-leerders (van links) Ethan Voges, Tanatswa Chisadza en Danielle Kitshoff met Max, die Eko-vegter Engelse Bulhond, word verdwerg deur die sakke tekstiel.

Die leerders van die Laerskool Durbanville het bewys dat klein aksies ‘n volhoubare toekoms kan bou toe hulle meer as 1 300 kg tekstiel van stortingsterreine gered het.

“Dis wat gebeur wanneer ‘n gemeenskap saamstaan – nie net vir die planeet nie, maar vir mekaar. In minder as twee maande het die dorp, tesame met Max & Me en Clothes to Good, hierdie hoeveelheid tekstiel bymekaar gemaak,” sê Adrie Jurgensen, stigter van Max & Me en provinsiale koördineerder van die Clothes to Good-projek.

Dit het als begin met ‘n projek deur die leerders van die Hoërskool Durbanville, waarvan die laerskool toe die leisels oorgeneem het.

Handuit geruk

“Ná die suksesvolle Mandeladag-insameling van 90 sakke by die hoërskool, het die laerskool slegs drie skooldae gehad ná ‘n lang vakansie om hul bydrae te lewer. Wat as 20 sakke beplan is, het vinnig handuit geruk. Teen die oggend van Vrydag 25 Julie was die projekkoördineerder, Tronéll Lessing, oorweldig deur donasies. Altesame 93 sakke is uiteindelik ingesamel,” sê Jurgensen.

“Sommige gesinne moes selfs toutrek oor wie kry die ou kussings en wie vat die komberse – die kind in die hoërskool of dié in die laerskool. Só het Durbanville se huishoudings van herwinning ‘n gesinsding gemaak,” sê sy.

Maar dit stop nie by die skool nie. Shirley Meyer, transformasie-bestuurder van Haleon South Africa en ‘n ouer van ‘n laerskoolleerder, het haar werkspan by die projek betrek en nog 20 sakke is netjies by haar werkplek verpak. Dit het die totaal vir Durbanville te staan gebring op 113 sakke vol tekstiel, sagte speelgoed, gordels, boeke en beddegoed.

Groter veldtog

“Die insamelingsprojek is deel van ‘n groter veldtog waar Clothes to Good, die begunstigde-organisasie, werk skep deur mikro-entrepreneurs op te lei om die artikels te herverkoop of herverwerk. Baie van hierdie entrepreneurs is ouers van kinders met gestremdhede en hierdie projek gee hulle die geleentheid om van die huis af ‘n waardige inkomste te verdien,” sê Jurgensen.

Max & Me, ‘n program wat fokus op emosionele intelligensie en veerkragtigheid, het die projek as bewusmakingsinisiatief gekies om leerders prakties te betrek.

Volgens Jurgensen is dit meer as ‘n insameling. “Ons wil wys dat jongmense nie net toeskouers is in hul toekoms nie. Hierdie projek leer leierskap, verantwoordelikheid en die waarde van volhoubare optrede. Dis oor hoop, nie net herwinning nie.”

Hoe werk dit? “Leerders ontvang ‘n groen sak en ‘n toestemmingsvorm wat deur ouers onderteken word. Sakke word gevul met skoon klere, sagte speelgoed, boeke, gordels, kussings, handdoeke – selfs enkelkouse is welkom. Die ondertekende vorm word los in die sak geplaas en teruggebring skool toe,” sê Jurgensen.

Clothes to Good weeg en versamel die sakke by die skool. Elke leerder ontvang ‘n 15% H&M-geskenkbewys wat hulle aanmoedig om van die winkelgroep se omgewingsvriendelike reekse soos bamboes en katoen te kies; ‘n spekboom — ‘n plaaslike, klimaatslim plant wat veerkragtigheid en herlewing simboliseer.

Vullisterreine

“Tekstielafval neem tot 200 jaar om te ontbind op vullisterreine. Spekbome help om koolstofdioksied te absorbeer en bring lewe terug in ons tuine.

“Die projek kweek toekomstige leiers wat verstaan dat plaaslike optrede wêreldwye impak kan hê,” sê sy.

Jurgensen het ‘n beroep op skole, ekoklubs en jeuggroepe gedoen om by hierdie praktiese, lewensveranderende veldtog aan te sluit.

. Stuur e-pos na Max@MaxAndMe.co.za om jou skool of klub aan te sluit.

Leerders van die Laerskool Durbanville by die altesame 93 sakke propvol klere, komberse, kussings en sagte speelgoed wat hulle tydens die skoolvakansie ingesamel het.
Leerders van die Laerskool Durbanville by die altesame 93 sakke propvol klere, komberse, kussings en sagte speelgoed wat hulle tydens die skoolvakansie ingesamel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article