Leiers uit die landbougemeenskap van Durbanville het oorheers in die Durbanville-Sakekamer se Sakeman en Sakevrou van die Jaar-kompetisie toe Thys Louw, eienaar-wynmaker van die Diemersdal-wynlandgoed, as Sakeman van die Jaar aangewys is , terwyl Karin de Villiers, eienaar van Klein Roosboom, die sakekamer se eerste Sakevrou van die Jaar is.
De Wet du Plessis, ondervoorsitter, het die wenners Woensdagaand by die sakekamer se jaareindgeselligheid by die Durbanville-gholfklub aangekondig.
“Ons is trots daarop om hierdie kaliber mense in Durbanville te hê. Daar is ook geen verskil in status tussen Sakeman en Sakevrou van die Jaar nie,” het hy gesê.
Ongelooflike leierskap
Hy het gesê De Villiers het die beoordelaars tydens ‘n onderhoud baie beïndruk met “die ongelooflike leierskap wat sy aan die dag lê en die sakevernuf wat sy toepas, asook die inkomstestrome wat sy op Klein Roosboom skep”. “Dit is onverstaanbaar en ons is so bly om jou hier as deel van die Durbanville-wynvallei te hê,” het hy gesê.
De Villiers het gesê dit is vir haar ” ‘n absolute voorreg om as Sakevrou van die Jaar aangewys te word”.
“Durbanville is ‘n plek waar tradisie en vooruitgang hande vat en ek hoop vir lank nog pasmaats gaan bly. By Klein Roosboom gaan sukses nie net oor groei nie, maar oor die glimlag op elke gas se gesig. Dit is die trots van elke werknemer, en die band en herinneringe wat ons saam bou. My visie vir Durbanville om die dorp te sien aanhou blom, en te sorg dat ons daardie uniekheid van ons dorp altyd bewaar. Ons moet in plaaslike besighede belê en seker maak dat ons nie daardie sjarme van ons dorp verloor nie. Baie dankie vir my familie en kinders — dis my span en die gemeenskap wat my laat groei en uitgedaag het. Ons moet almal selfaangestelde ambassadeurs vir Durbanville wees,” het sy afgesluit.
Deel van die geskiedenis
Oor Louw het hy gesê dat hy deel is van die geskiedenis van Durbanville.
“Hy het grootgeword in Durbanville en tot dusver sy hele lewe op die plaas spandeer. Hy het ‘n passie vir Durbanville. As deel van die geskiedenis, stel hy ook baie belang in die geskiedenis. Hy maak ook ongelooflike wyne — hier op ons voorstoep, waarvoor hy gereeld toekennings ontvang wat ons trots maak hier in Durbanville,” het Du Plessis gesê.
“Ek was gelukkig om as wynmaker al ‘n paar pryse te ontvang oor die 15, 20 jaar wat ek betrokke is, maar om erkenning uit jou eie gemeenskap te kry, is een van die grootste erkennings wat ek kon kry. Durbanville is nie ‘n plek op die kaart nie; dis my huis, my gemeenskap, my vriende is hier, my kinders is hier op skool en ek het hier getrou. Ek is bevoorreg om die sesde geslag op Diemersdal te wees en dis ‘n enorme voorreg.
“Ons moet ouer mense erkenning gee; hulle ken die regte pad. Ek kon nie hier gestaan het sonder my ma en pa en ouer familie nie,” het hy gesê.
Louw het ook erkenning gegee aan sy werknemers vir die rol wat hulle in die sukses van Diemersdal speel.
















You must be logged in to post a comment.