Durbanville-man in hof ná hy glo vrou doodry

Die 22-jarige Lukay Boonzaaier van Morningstar, ma van ‘n vierjarige seuntjie, en ’n vriend, JP Papier, het die oggend van haar huis na die Caltex-vulstasie op die hoek van Pleinstraat en Wellingtonweg gestap om lugtyd te gaan koop.


Die Morningstar-gemeenskap groet môre ‘n jong ma ¬nadat sy verlede Sondagoggend vroeg in Wellingtonweg doodgery is, na bewering deur ‘n dronk bestuurder.

Die bestuurder van die voertuig het eers weggejaag, maar is deur sekerheidsbeamptes en ’n insleepdiensvoertuig agternagesit en aangekeer.

Die 22-jarige Lukay Boonzaaier  van Morningstar, ma van ‘n vierjarige seuntjie,  en ’n vriend, JP Papier, het die oggend van haar huis na die Caltex-vulstasie op die hoek van Pleinstraat en Wellingtonweg gestap om lugtyd te gaan koop. 

Hulle was op pad terug en het die pad oorgesteek toe ’n Amarok-bakkie, wat in die die rigting van Fisantekraal gery het, haar en haar vriend omstreeks 02:00 getref het. 

Sy is op slag dood en Papier is ernstig beseer en word tans in die Durbanville Mediclinic behandel. 

Die begrafnisdiens is môre om 09:00 vanuit die VGK in Morningstar.

Die bestuurder van die voertuig is in Langebergweg by die Lord’s Walk-sirkel aangekeer en in hegtenis geneem op klagte van strafbare manslag en dronkbestuur. 

Tobias Jacobus Mostert (49, ook bekend as Kobus)  van Durbanville is dieselfde dag reeds op borgtog van R3000 vrygelaat. Hy het Maandag 30 Oktober vlugtig in die Bellville-landdroshof verskyn en die saak is tot 7 Desember uitgestel.

Lukay laat, buiten haar ma, Beverley Boonzaaier, haar vierjarige seuntjie agter. Sy was werkloos, maar sou volgende jaar gaan studeer het.

You need to be Logged In to leave a comment.