Die meeste inwoners van Kaapstad en die res van Suid-Afrika het al die groen advertensieborde gesien wat praat oor spesifieke mense en waar/wanneer hulle “Naked” gekry het. Dit het vir seker al ‘n paar wenkbroue gelig.
Maar die afgelope week het ‘n misverstand amper ‘n hele gemeenskap onstel.
Die digitale verksekeringsplatform, Naked, borg die musiekfees Liefde by die Dam, wat eerskomende naweek by Meerendal in Durbanville plaasvind. Hulle het laasweek die naam van die feesorganiseerder, en hoofsanger van die groep Die Heuwels Fantasties, Pierre Greeff, gebruik in ‘n advertensiebord in die omgewing – “Pierre got Naked at Liefde by die dam.”
Maar wat hulle nie besef het nie, is dat die plaaslike laerskool, waar die advertensie opgerig is, se skoolhoof, se naam ook Pierre is.
Die gemeenskap was bietjie omgekrap, en heelparty ouers het aangeneem die advertensiebord praat oor die skoolhoof. Die klagtes was verstaanbaar.
Gelukkig kon Naked en die skool vinnig die misverstand uitklaar, en die bord is verwyder.
Sê Mnr Pierre du Toit, die skoolhoof van Laerskool Durbanville, “Ons is dankbaar dat Naked proaktief opgetree het omdat hulle verstaan dat ons nie kan bekostig dat kinders verwarrende advertensies sien nie. As ‘n ekstra gebaar het Naked ook gereël dat die rockster Pierre komplimentêre kaartjies vir die musiekfees aan ons kom oorhandig. Ons veil die kaartjies op, en Naked sal die bedrag wat ons insamel verdubbel met ‘n kontantskenking aan ons skool.”
Ernest North, die medestigter van Naked, sê hy is dankbaar dat albei Pierre’e goeie “sports” was. “Soms kan mens maar net lag oor die toeval van so ‘n misverstand. Suid-Afrikaners kry orals Naked. Trouens, ons data wys dat 65 verskillende mense met die naam “Pierre” sover hierdie maand die Naked diens gebruik het. Maar as ‘n groot aanhanger van Die Heuwels Fantasties het ek vergeet daar is ander Pierre’e ook. Ons vra omverskoning aan die Durbanville gemeenskap vir die verwarring.”