Drie gewapende rowers wat blykbaar iemand in Bothasig aangeval en beroof het, is verlede week enkele ure ná die voorval vasgetrek.
Die drie het na bewering op Vrydag 25 Oktober omstreeks 05:15 ’n vuurwapen op ’n voetganger langs Bosmansdamweg, Bothasig, gerig en die inwoner beroof waarna hulle op die vlug geslaan het.
Hulle is etlike ure later deur lede van die Maitland-polisie se blitspatrollie in Goodwood voorgekeer en in hegtenis geneem.
Hulle is voorgekeer nadat inligting ontvang is van verdagtes in ’n Ford Fiesta wat glo by straatrowery in die gebied betrokke is.Die Wes-Kaapse polisie het in ’n verklaring gesê die mans sou Maandag in die Goodwood-landdroshof verskyn nadat ’n 9 mm-pistool met ammunisie in die voertuig gevind is.
Die verdagtes, tussen 24 en 40 jaar, is vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem.