’n
Dramatiese jaagtog en skietery tussen polisielede en vermeende kapers het
Donderdagaand op die R300 afgespeel.
Volgens
lt.kol. Fienie Nimb, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, het
konstabels Bongile Rulutyana en Eugene Sonnenberg in ’n ongemerkte voertuig die
woonstelkompleks Parksig Villas in Bellville gemonitor. Die woonkompleks is
berug vir dwelms en prostitusie.
“Die
konstabels het ’n onbekende voertuig gewaar wat verdag voorgekom het. Hulle het
dadelik versterkings geroep,” sê Nimb.
Die
versterkings, konstabels Keenan Joseph en Leigh Hockey, het in ’n gemerkte
polisievoertuig by die toneel aangekom.
Met hul
aankoms het die verdagte mans begin wegjaag, met albei polisiemotors vinnig op
hul spoor.
Polisielede
het die voertuig deurgaans probeer aftrek, vertel Nimb.
Toe die
drie voertuie op die R300-deurpad kom, het die mans in die onbekende voertuig
op die polisiemotors begin skiet en die gemerkte polisiemotor van die pad af
probeer dwing.
Die
bestuurder van die verdagte voertuig het egter beheer oor die motor verloor en
dit het tot ’n stilstand gekom.
Twee
verdagtes is te voet vort met drie polisielede op hul spoor.
Konst.
Sonneberg het agtergebly om die voertuie te skuif. Toe hy by die verdagtes se
voertuig kom, het hy tot sy verbasing besef daar is nog twee mans wat in die
motor sit.
Hy het
hulle in hegtenis geneem.
Die
polisielede wat die ander twee verdagtes gejaag het, het intussen een
vasgetrek. Die ander een het weggekom.
Wetstoepassingslede
het intussen verbygery en die polisie op die toneel gehelp.
Die voorval
het rondom 23:00 plaasgevind.
Met verdere
ondersoek het polisie gevind dat die voertuig ‘n paar uur vroeër in Kuilsrivier
gekaap is.
Die klaer
in dié saak het glo by sy huis aangekom en was net besig om te parkeer toe vier
mans met vuurwapens op hom afstorm. Hulle het selfone en geld geëis en het hom
daarna uit die voertuig gedwing.
Volgens Nimb
staar die beskuldiges klagtes van poging tot moord en kaping in die gesig.
Hulle sal binnekort in die hof verskyn.