Van die kinders in die sorg van die Durbanville-kinderhuis kom sommige op tweejarige ouderdom daar aan met net die klere aan hul lyfies.
Maar, sê Johanna Strauss, bestuurder van die kinderhuis, “die kinders in ons sorg is besonder veerkragtig”.
Die kinderhuis het onder meer pas die goeie nuus ontvang dat drie meisies – “ons eie Karate Kids” – gekies is om aan die SA kampioenskap deel te neem.
Hulle het eers in Junie verlede jaar vir die eerste keer aan karate begin deelneem, en in Junie vanjaar hul WP-kleure ontvang. Hulle sal van 27 tot 30 Julie in Johannesburg deelneem.
“Ons probeer altyd ons kinders aan verskillende sportsoorte blootstel. Karate was vir ons ’n goeie keuse aangesien dit kinders met dissipline help. Ons het uitgereik na die Winelands JKA Karateklub in Durbanville, wat ingestem het dat ons kinders teen ’n verminderde bedrag by hul klub kon aansluit. Ons kon bekostig om ses van ons kinders klasse te laat bywoon.
Deursettngsvermoë
“Dis regtig ’n uitsonderlike prestasie en ’n aanduiding van hul deursettingsvermoë. Om te presteer beteken alles vir ons kinders. Hulle vind groot vreugde daarin om in sport uit te blink en hou daarvan om te wen, so ek verwag ’n medalje of twee!” sê Strauss trots.
Die meisies is 12, 13 en 14 jaar oud en onderskeidelik ses, twee en ses jaar al in die kinderhuis. Hul name mag nie bekend gemaak word nie, aangesien hul identiteit deur die reg beskerm word.
”Hulle is baie opgewonde, maar ook skrikkerig vir hulle eerste lang busrit. Een van die meisies het nou die dag vir my gesê: ‘Tannie, jy moet die hele tyd vir ons bid.’ Ons stuur darem ‘n kinderversorger saam om hulle meer rustig te laat voel,” sê Strauss.
Die busrit vir die vier beloop R8 000 en die verblyf en kompetisiegelde R3 000 per kind, asook R500 elk vir sakgeld vir die week en R2 300 vir die versorger – R20 800 in totaal. Hoewel ruim skenkings reeds ontvang, sal enige verdere bydraes tot hierdie uitgawes baie waardeer word. sê Strauss.
Drie van die kinderhuis se meisies is ook tans prefekte by hul onderskeie skole.
“Wat ’n wonderlike prestasie vir kinders wat grootgeword het met ouers wat nie goeie rolmodelle vir hulle was nie,” sê sy.
“Ons is geseënd met die wonderlikste kinders in ons sorg. Hulle gee om vir ander en is baie nederig; ek glo dit is as gevolg van die trauma wat hulle ervaar het. Wanneer hulle by ons aankom, is die meeste erg getraumatiseerd. Sommige praat glad nie en huil hartverskeurend as hulle besef dat die Durbanville-kinderhuis nou hulle blyplek word. Maar, ’n week later speel hulle met die ander kinders en begin om ’n verhouding te bou met hul versorgers.
“Een van ons grootste uitdagings is om hulle te kry om op ’n gereelde basis skool by te woon, aangesien die meeste nooit gereeld skool bygewoon het nie,” sê Strauss.
Die kinderhuis het 105 kinders wat skoolvervoer benodig na nie minder nie as 38 verskillende skole.
“Hulle moet vyfuur opstaan, ontbyt eet en sesuur by die busse wees. In die winter is dit bibberkoud.”
Op Jeugdag het die kinders aan ’n talentkompetisie deelgeneem wat hulle terdeë geniet het. Altesaam 24 kinders het deelgeneem aan items wat gewissel het van geestelike liedjies tot hip-hop-optredes.
Die kinderhuis hou ook elke kwartaal ’n prysuitdeling. “By daardie geleentheid beloon ons kinders vir skoolbywoning, sport, leierskap en akademiese prestasies. Hulle ontvang klein blykies van waardering soos skyfies, koeldrank of sjokolade, maar dit beteken die wêreld vir hulle,” sê Strauss.
“Ek glo dat as ons weet wat ons kinders se stokperdjies is, wat hul gunstelingvakke en belangstellings is, sal dit hulle laat voel dat hulle behoort. Dit sal hulle die moed gee om vir hulself ’n nuwe lewe te bou – weg van die omgewing waar hulle mishandel en verwaarloos is.
“Baie dankie vir elke besigheid, individu en vrywilliger wat help om ’n verskil in ons kinders se lewens te maak. Julle is ons helde!”


