Drie mense verskyn vandag (Maandag) in die hof op aanklag dat hulle Vrydag ’n prokureur in Bellville ontvoer het.
Die prokureur, wat deur sy vrou as vermis aangemeld is nadat hy nie na werk by die huis opgedaag het nie, is in Klawer gevind nadat speurders van die Bellville-polisiekantoor weens “vreemde omstandighede rondom die insident” dadelik aan die werk gespring het.
Die speurders het eers met die prokureur se vennoot en sekretaresse gepraat voordat hulle na sy kantoor is, sê AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die kantoor was erg omgekrap en sekere items is ook vermis. Hulle het ‘n lêer op sy lessenaar gekry wat noodsaaklik vir die ondersoek was omdat dit vir hulle direkte leidrade gegee het om op te volg.”
Die polisie is eers na ’n vrou in Yalestraat in Belhar om ’n vrou te besoek wat die vorige dag by die prokureur was. Sy was egter nie daar nie en haar man kon nie sê waar sy was nie.
“Ooggetuies wat ondervra is, het die vrou op die misdaadtoneel geplaas en hulle het bevestig dat sy ’n wit motor bestuur het, wat die speurders geglo het die prokureur s’n was. In die motor was ’n onbekende man en nog twee insittendes.”
Die speurders het leidrade in die lêer opgevolg, wat hulle na ’n adres in Klawer gelei het. Hulle het hierdie inligting met die plaaslike polisie daar gedeel.
“Hulle het die kar by die huis opgespoor en die huis binnegegaan, waar hulle die vermiste man opgespoor het, wat getraumatiseerd was.”
Twee vroue en ‘n man is op aanklag van ontvoering in hegtenis geneem.


