Drie dood na skietery in Leonsdale

Drie mense is dood en talle in die hospitaal ná ’n skietery in Leonsdale in Elsiesrivier Maandagaand, sê die polisie.


Drie mense is dood en talle in die hospitaal ná ’n skietery in Leonsdale in Elsiesrivier Maandagaand, sê die polisie.

Blykbaar hou die skietery verband met ’n grootkop van die 26’s-bende wat Sondag in Connaught Estate geskiet is, hoewel die polisie nie dié inligting kon bevestig nie.

Kapt. Daphne O’Reilly, Elsiesrivier-polisiewoordvoerder, sê hulle het drie moordsake en sewe poging tot moord-sake geopen.

Onder die gewondes is drie vroue en sewe mans, almal  tussen die ouderdomme van 15 en 53.

O’Reilly sê volgens ooggetuies op die toneel het ’n groep mans in tradisionele Moslem-drag laat op straat gesit waar hulle blykbaar ‘n verjaardag gevier het.

Die verdagtes het in ‘n rooi Audi en Fiat Uno daar verby gery en op dié groep mans begin skiet.

“Drie mans – Anthony Phillips (50) en Fernando Williams (17) en een van onbekende ouderdom – is dood. Die derde man het later in die hospitaal gesterf.”

Volgens O’Reilly sê Williams se familie dat hy nie aan ’n bende behoort nie.

Sy sê daar was later nóg ’n skietvoorval by die sogenaamde KhoiSan Village-buurt, waar ’n 13-jarige seun in die wang en nek gewond is, “blykbaar omdat hy op een van die vorige tonele raakgesien is”.

O’Reilly sê daar is nog geen verdagtes in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.