'n Foto van dr. Jacques Malan, brandende kerse en blomme is uitgestal.
‘n Foto van dr. Jacques Malan, brandende kerse en blomme is uitgestal.

‘n Kerk stampvol mense van heinde en verre het verlede Vrydag in die NG kerk Sonstraal afskeid geneem van dr. Jacques Malan (55), ‘n geliefde mediese dokter van Durbanville, wat op 27 Julie in ‘n motorfietsongeluk op die Helshoogtepad (R310) gesterf het.

Die ongeluk het omstreeks 08:45 naby die afdraai na die Boschendal-wynlandgoed plaasgevind. Die diens is ook aanlyn aangebied.

Ds. Eugene Malan, die oorledene se neef, het in die huldeblyk gesê die massa mense wat opgedaag het, getuig van die invloed wat Malan op soveel mense se lewens gehad het.

Hy het uit Filippense 4 voorgelees: “Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal, verbly julle. Laat jul vriendelikheid aan alle mense bekend word …”

“Jacques was ‘n gesinsmens, ‘n mensemens, kosliefhebber, geselser, denker, sagte siel, vriend, uitnemende dokter … ‘n mens sou die lys langer kon maak. So het ons hom as sy niggies en nefies leer ken, en so het sy pasiënte en vriende hom leer ken.

Menswees na vore

“Daai kere wat julle dalk lank in die spreekkamer gesit en wag het … as ek by hom ingestap het met ‘n ingroei-toonnael het dit ‘n trip down memory lane geraak. Ons het gesels oor ons kinderjare, ons ouers en familie. Dit was ‘n besondere tyd waarin Jacques se menswees na vore gekom het.

“Ek weet, en Jacques het geweet aan Wie hy behoort het. Hy het altyd geweet Wie die bron van sy krag was en wat dit is wat hom elke oggend laat opstaan het en met vreugde na sy spreekkamer en teater toe laat gaan het. Hy het geweet dat dit wat hy doen, betekenisvol is en het dit met vreugde gedoen.

“Blydskap is nie net iets wat jy agter elke bos uitskop nie. Daar is al boekrakke vol geskryf oor die woorde ‘(verbly jul) in die Here. Hierdie blydskap is ook nie net iets wat vir jouself bedoel was nie en net deur jouself geniet moet word nie, maar Paulus sê laat jul vriendelikheid aan alle mense bekend word. Daardie blydskap wat jy vind in die Here, laat dit oorspoel en sigbaar word in die mens wie jy is – nie net die met wie jy voel jy vriendelik wil wees nie, maar met alle mense.

“Jacques het aan elke pasiënt die nodige tyd, agting, liefde, geduld en sorg gegee – bo en behalwe wat van hom verwag was om sy werk te kon doen. Hy sou met pasiënte praat oor meer as die fisiese, maar ook oor geestelike gesondheid.”

Nuuskierigheid

Chris Hazard, ‘n jarelange vriend en pasiënt, het gesê Malan was ‘n ongewone en merkwaardig man, maar ‘n ware renaissance-man en ‘n mens vir alle seisoene – ‘n sorgsame eggenoot, pa, broer, seun, kollega, vriend en dokter; ‘n vriendelike en nederige man.

“As ‘n dokter was hy buitengewoon. Hy het altyd die hele persoon voor hom behandel, en met groot deernis. Sy pasiënte kon met hom oor enigiets praat. Hy was ‘n uitstekende waarnemer en sy aandag aan die fynste besonderhede het my altyd verstom.

“Jacques het ‘n enorme vlak van nuuskierigheid gehad. Wat ookal die onderwerp, hy sou dit bestudeer, bewyse insamel, alle opsies oorweeg en dan ‘n ingeligte besluit neem. Hy het selde nie ‘n sterk mening oor dinge gehad nie en het ook die kennis gehad om dit te ondersteun. Hy was ‘n wyse man en was nooit ‘n draadsitter nie.

” ‘n Mens mag vra waarom so ‘n jong, lewendige, talentvolle man in sy fleur van ons geneem word. Hy het ten volle geleef – sy familie geniet, die buitelug, duik, jag, die teel van beeste, belanggestel in plantkunde en so baie meer. En natuurlik sy liefde vir motorfietse. Hy het onverwags gesterf maar hy was besig om te doen waarvoor hy lief was.

“Hy was ook ‘n toegewyde Christen en is gelei deur die leringe van die Nuwe Testament in sy daaglikse lewe en omgang met ander. Ek sal altyd my herinneringe aan jou koester. Rus in vrede; die stryd is gewonne,” het hy afgesluit.

Nog ‘n vriend, Gert Saunders, het gesê Malan het alles 200% gedoen – “of hy geëet het, gekuier het of gesels het oor geloof”.

“Hy was nie ‘n ou wat geroem op sy eie goed nie; hy was ‘n ou wat gesê het, wat kan ek ekstra vir jou doen, en dan doen hy steeds baie meer. Wat ons moet leer van hom, is gee daai ekstra.”

Josh Knapp, ‘n vriend van Jean, het gesê hy praat namens al die jongmense dat Malan meer was as net hul vriend se pa was.

“Ek dink dit spreek vanself dat hy ‘n pretty cool ou was. Hy was ‘n man met vele talente en wye kennis. As jy kan dink aan iets cool, wed ek jou hy het dit al gedoen. Hy was ook een van die sterkste vaderfigure wat ek al teëgekom het – iets waarna ons almal kan opkyk op een of ander manier.

“Wat hom so spesiaal gemaak het, was nie net die sterkte wat hy gehad het nie, maar hoe hy dit gedeel het. Hy en sy vrou het ons in hul huis verwelkom asof ons familie was, maak nie saak hoe laat ons bly of hoe dikwels ons opgedaag het nie. In hierdie tye het hy saam met ons gedink, omgegee, gelag en lief gehê. Hy het daardie tipe advies gegee wat jou gehoor laat voel het – asof hy nie met jou praat nie maar saam met jou. Ek is dankbaar dat ek hom geken het.”

Warmte en opregte aandag

Sy seun, Jean, het gesê sy pa het ten tye van sy afsterwe gedoen waarvoor hy lief was, “om met ‘n mean motorfiets deur ‘n pragtige vallei op ‘n Sondagoggend te ry”.

“So tragies soos dit mag wees, weet ek dat my pa sy lot tegemoet gegaan het met een van sy beroemde sêgoed, “What a way to go!”

“My pa was vele dinge – hy was ‘n motorfietsryer, ‘n jagter, ‘n duiker, ‘n vriend, ‘n gholfspeler, ‘n pa, eggenoot, visserman en heler. My pa het lewens vir ‘n werk gered. Dis ‘n edel professie maar nog meer edel was hoe hy sy werk benader het.

“As hy met jou gepraat het, het hy gepraat asof jy enige persoon op aarde is. Hy het met jou met warmte en opregte aandag gepraat wat verder as die kliniese gestrek het. Hy het bo en behalwe gegaan met als wat hy aangepak het.”

Jean het almal by die diens bedank. “Die liefde in die vertrek het weereens bevestig dat my pa inderdaad ‘n great man was.”

‘n Foto van dr. Jacques Malan , brandende kerse en blomme is uitgestal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article