Swaar toerusting is Vrydag 9 September ingespan om ’n sewejarige meisie wat tussen twee takke van ’n boom vasgekeer was, te help bevry.
’n Lid van die private veiligheidsmaatskappy District Watch, ’n lid van die plaaslike PWP-buurtwag sowel as familielede van die kind het met die reddingsproses gehelp.
Luidens District Group se inskrywing het hul areabestuurder, Mark Horstman, op dié dag ingespring en handjie bygesit nadat hy oor die voorval ingelig is.
Die meisie, Mari-Louise Snyman, was saam met haar ma, Anne-Mique Snyman, by Camoenspark in Monte Vista.
Mark het eers probeer keer dat die kind verder afgly. ’n Lid van ’n plaaslike buurtwag het toerusting verskaf wat gebruik is om die takke van mekaar weg te druk, waarna die meisietjie se oupa ook hand bygesit het.
Pret ontaard in ongeluk
“Ons was by Camoenspark waar die kinders oudergewoonte boom klim; hulle is mal daaroor,” sê Anne-Mique.
“Op ’n manier het Mari-Louise tussen nabygeleë takke ingegly. Ek was eers nie seker dat dit ’n probleem was nie, totdat ek kon sien hoe sy basies tussen twee vasgeknyp is weens die swaartekrag wat haar na onder getrek het.
“Ek het Mark Horstman van District Watch gebel. Hy was binne vyf minute daar en het Mari-Louise met ’n lapband gestabiliseer sodat sy nie verder afsak nie. Intussen het my pa ook daar aangekom en in die boom geklim om haar te probeer optrek. Mark het ’n domkrag tussen die takke ingedruk en haar oupa het haar veilig uitgelig.”


