”n Leraar van die NG kerk Durbanville, ds. Wynand Breytenbach, deur Tiaan Jansen van Rensburg, het op Maandag 17 Maart vanaf die kerk vertrek op ‘n fietstrap ten bate van die Zithulele-gemeente in die Oos-Kaap.
Die trappers het beoog om teen die einde vandeesmaand hul bestemming na 1 300 km op hul fietse te bereik. Al die pad saam met die fietsryers, is die ondersteuningsvoertuig, deur ‘n lidmaat geleen, met Senzo Madida van MES agter die stuur. Hy het spesiaal verlof daarvoor geneem.
Die jeug van die gemeente onderneem jaarliks ‘n uitreikprojek na Zithulele, waartydens hulle betrokke raak by verskeie aksies om die gemeenskap te ondersteun.
Tydens die laaste besoek verlede jaar het die behoefte aan ‘n groter kerk weens die groei in lidmate duidelik geword. Breytenbach het besluit om hierdie tog per fiets aan te pak om R1,3 miljoen deur middel van borgskap in te samel om die kerkgebou op Zithulele te vergroot.
Al langs die pad, by elke dorp en gemeente wat hulle aangedoen het, is die ryers ondersteun en gasvry ontvang. Daar het geleidelik ook meer fietryers by die groep aangesluit.
Die ryers se toer kan op die gemeente se Facebookblad by Durbanville-gemeente of op Instagram gevolg word.
Bydraes kan steeds tot hierdie projek om die kerkgebou op Zithulele te vergroot, gemaak word. ‘n Artikel 18A-sertifikaat kan op versoek voorsien word. Enigeen wat belangstel om by te dra, kan die kerkkantoor kontak by 021 975 6370 of stuur e-pos na jackie@dgkerk.
. Besoek die gemeente se webtuiste by https://dgkerk.co.za vir meer inligting.



