Om die mure en plafonne van jou huis te verf, is ‘n groot taak wat beplanning vereis voordat jy begin.
Die regte volgorde vir die verf van enige vertrek is om eers met die plafon te begin, dan die mure en laastens die hout- en metaalwerk soos verkoelers en pype.
Beplan altyd jou werk deeglik en werk stelselmatig – só verseker jy dat jy nie dele oorslaan wat later sigbaar sal wees wanneer die verf droog is nie.
Noodsaklike gereedskap en voorbereidingswenke
Voordat jy enige verf begin aanwend, moet jy eers besluit hoe jy die oppervlak veilig en gemaklik gaan bereik. Om met die een voet op ‘n stoel te balanseer, is nié die manier nie!
Maak die vertrek so leeg as moontlik en skuif enige oorblywende meubels na die middel van die kamer en gooi dit toe met plastiekbedekking.
Matte moet ook só beskerm word.
As jy nie ‘n geskikte leer het nie, kan jy een by ‘n winkel gaan huur. Verskeie soorte is beskikbaar – sommige vou oop tot ‘n werkplatform, wat ideaal is vir die verf van groot oppervlaktes soos plafonne.
Jy moet ook let op die aard van die oppervlak wat jy gaan verf – is dit grof (soos spuitpleister) of glad gepleister? Dit is belangrik, want dit bepaal watter roller jy moet gebruik en hoeveel voorbereiding nodig is.
Tekstuurplafonne kan met tyd bros en stowwerig raak, veral as dit nog nooit geverf is nie. In sulke gevalle moet jy dit eers met ‘n olieverf verseël.
Gladde plafonne het dikwels krake wat met die regte vulmiddel herstel moet word. Talle verskillende soorte is beskikbaar. Neem dus jou tyd om die regte een vir jou projek te kies.
Verfwenke
Sodra jy die toegang en voorbereiding uitgesorteer het, moet jy besluit watter soort verf jy gaan gebruik – wil jy ‘n dowwe-, eierdop-, halfglans- of hoëglans-afwerking hê? Dowwe verf is dikwels die beste keuse, aangesien dit oppervlakgebreke help verbloem.
Volg ‘n paar eenvoudige wenke om jou verfprojek te vergemaklik:
- As jy plafonne verf, begin in een hoek en werk die kante in terwyl jy aangaan, eerder as om eers die hele omtrek met ‘n kwas te verf. Laasgenoemde metode laat dikwels die verf droog word voordat jy die res met die roller verf, wat ‘n streperige effek kan veroorsaak. Laat die plafonverf sowat 2 cm teen die muur afstrek; dan hoef jy later net netjies met die muurverf teen die randlyn in te sny.
- Die proses vir muurverf is dieselfde. Sny in rondom skakelaars en proppe terwyl jy aangaan, en moenie te veel bekommer as jy effens op vensterrame of deurkosyne verf
- nie – dit is maklik om later netjies met die laaste verfwerk af te rond.
- Die tegniek “insny” is makliker as wat meeste die mense dink. Jy kan spesiale kwaste koop waarvan die hare teen ‘n skuins hoek gesny is – ideaal vir presiese werk.
- Moenie te veel verf met die kwas skep nie. Hou dit soos ‘n pen vas en begin in een hoek.
- Begin ‘n bietjie onder waar jy die rand wil hê en werk stadig op tot teen die regte lyn. As daar nie genoeg verf op is nie, is dit maklik om weer daaroor te gaan om dit reg te stel.
- As jy per ongeluk teen die afgewerkte plafon verf, wag totdat dit droog is en werk dan weer met die plafonverf om die lyn reg te maak. Jy hoef nie die hele plafon oor te verf nie; dis net ‘n klein regstelling.
- Moenie in die versoeking kom om maskeerband te gebruik nie – verf kruip dikwels onder die rand in, en as jy die band aftrek, kan stukke van die vorige verflaag loskom, wat die kaal pleister sal ontbloot. Jy sal met ‘n bietjie oefening met ‘n kwas verbaas wees hoe maklik dit is om goeie resultate te kry. Die belangrikste is om jou tyd te neem en netjies te werk.
- As jy die muur agter byvoorbeeld ‘n lugversorger wil verf sonder om dit af te haal, is rollers ideaal. Hulle werk ook goed in ander moeilik bereikbare dele.
Kliek hier om die volledige DIY Soos ‘n Kenner-bylaag in e-formaat te lees.




You must be logged in to post a comment.