Dit is ‘n trotse oomblik vir Bok Radio se hoof- uitvoerende beampte, Wimpie van der Sandt.

Wimpie van der Sandt, hoof- uitvoerende beampte van Bok Radio by die country-superster Kip Moore tydens sy konserttoer in Suid-Afrika vroeër vanjaar.

Verskaf

Die Country Music Association het Van der Sandt en Bok Radio benoem vir ‘n CMA-toekenning in die kategorie vir beste internasionale country-uitsaaier. Dié gesogte CMA-toekenning erken die bydrae van ’n radio-uitsaaier om countrymusiek buite die grense van die VSA te bevorder.

Dit is die eerste keer dat Suid-Afrika dié eer ontvang en volg na die ongelooflike sukses met die Amerikaanse country-musiekster Kip Moore se Suid-Afrikaanse optredes in Kaapstad en Pretoria vanjaar.

Die konserte, waarvan die eerste se kaartjies binne 40-minute uitverkoop is, is deur Bok Radio en die Heroes-restaurant georganiseer.

Van der Sandt en Bok Radio ding in dieselfde kategorie mee teen BBC Radio Scotland in die Verenigde Koninkryk, KIX Country in Australia, Star FM in Duitsland en Go Country in Swede.

Moore is ook benoem vir ‘n toekenning en sal in die kategorie vir beste internasionale kunstenaarsprestasie teen Luke Combs en Morgan Wallen meeding.

Van der Sandt het aan TygerBurger gesê die nominasie voel vir hom nog baie onwerklik.

“Dis ’n groot eer vir my persoonlik en vir Bok Radio om die erkenning te kry. Dit sal kriedietwaardigheid bring aan wat ons in Suid-Afrika se musieklandskap doen ­-­ iets wat ek voel ons nie altyd genoegsame erkenning voor kry in Suid-Afrika self nie. Hopelik kan ons Suid-Afrika trots maak en die CMA huis toe bring,” sê hy.

Van der Sandt sê countrymusiek vind baie aanklank by Suid-Afrikaanse mense júís omdat dit stories vertel.

“Ons is storievertellers en ons hou van stories. Met 28 jaar in die radiowêreld het ek altyd geweet daar is ’n groot mark vir country en Kip Moore se musiek het met my gepraat. Hy is definitief een van my top3-gunstelinge. Vandat ek die eerste keer een van sy liedjies gehoor het, het ek geweet ek moet hom Suid-Afrika toe bring. Dis nie net countrymusiek met mooi lirieke nie; sy musiek het ’n ritmiese rock-aanslag waarvan baie Suid-Afrikaners hou.”

Maar dit was ’n lang pad, en hy het soms die wind van voor gekry om sy doelwit te bereik. 

“Sukses gebeur nie oornag nie. Ek moes my huiswerk deeglik doen en het Nashville in die VSA verskeie kere besoek om navorsing oor die genre te doen. Dit was moeilik om die Amerikaners te oortuig dat daar ’n countrymark in Suid-Afrika is. Ek moes aan baie deure klop en dit was eers na my vierde besoek aan Nashville dat die deure begin oopgaan het,” vertel hy.

Die projek was geïnspireer deur sy eie wens vir ’n bietjie vrede, sê hy.

“Almal wil nie heeldag met die wêreld baklei, of oorlog keer of oorlog maak nie. Partykeer wil jy net na ’n mooi liedjie luister, met mooi lirieke en ’n lekker ritme. Ek was moeg vir soetsappige liefdesliedjies van meisies in rokkies. Dit het net vir my sin gemaak ­- lekker stories, lekker songs en lekker musiek.”

Van der Sandt werk tans aan ‘n internasionale countryfees, wat volgende jaar in Kaapstad plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.