Duisende rande se sterrekunde-toerusting is soek nadat dit by ’n huis in Boston, Bellville gesteel is.
Carol Botha, ’n ernstige sterrekunde-entoesias, het Sondagoggend haar motor uitgepak nadat sy die vorige aand by ‘n geleentheid sterre gaan uitwys het.
Botha is deel van die Orion-observasiegroep wat gereeld die hemelruim uitlig as deel van die Afrikaanse Taalmonunument se sterrekykpieknieks in die Paarl.
Sy was juis besig om uit te pak ná so ’n uitstappie.
Volgens Botha het sy tussen 06:15 en 06:30 die oggend die toerusting vanaf haar motor na haar huis toe gedra.
Sy het seker gemaak die area is baie stil.
Die toerusting was egter baie swaar en sy kon nie alles op een slag dra nie.
Toe sy terugkeer nadat sy iets ingedra het, het sy gesien ’n plastiekhouer vol sterrekunde-toerusting is weg.
Later het hulle op hul sekuriteitsopname gesien hoe twee mans oor haar muur spring en die houer neem.
Botha het die saak by die polisiekantoor gaan aanmeld.
’n Hawelose vrou het haar vertelling in die kantoor gehoor en gesê sy het mans met die houer, wat vol sterre geplak is, gesien.
Die polisie het met dié inligting die houer opgespoor, maar dit was leeg. Die man wat die houer gehad het, het volgens die vrou glo gesê hy het dit vir R40 gekoop.
Baie van die items is spesialis-items. Boonop is daar ook boeke, notaboeke en prentjies wat skoolkinders geteken het op ster-uitreike wat sy saam met hulle gedoen het.
Enigeen met inligting word versoek om Botha by 021 945 3260 te bel.