Diewe klim nou deur dakke

Inbrake waarin toegang tot ’n huis deur die dak verkry word, het toegeneem, veral in woonbuurte soos Ruwari en Proteahoogte, waarsku ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy.


Inbrake waarin toegang tot ’n huis deur die dak verkry word, het toegeneem, veral in woonbuurte soos Ruwari en Proteahoogte, waarsku ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy.

Dit word ’n tendens dat inbrekers dakplate verwyder om in die huis te kom.

Volgens Carla Lourens van Cmax Sekuriteit is verskeie sulke inbrake in die laaste tyd aangemeld.

“Hulle klim tot op die dak deur gebruik te maak van lugversorgingsbokse, pilare of grensmure. Die dakplate word dan sorgvuldig verwyder.

“Sodra hulle in is, volg hulle die alarmdrade tot waar jou hoof-alarmboks is en sny dan alle drade na die boks af. Daarna slaan hulle gate in die plafon in elke kamer om te kyk in watter vertrekke duur artikels is, en waar dit die maklikste is om af te klim in die huis.

“Natuurlik kies hulle die naaste uitkompunt, soos die agterdeur of skuifdeur,” sê Lourens.

Hou huise dop

Volgens Lourens het die voorvalle waarvan sy bewus is net voor skemer oor naweke plaasgevind.

“Ek vermoed hulle hou die huise dop en wag dan tot inwoners ry vir ’n aand of naweek uit. In een geval het die inbrekers toegeslaan net nadat die gesin op vakansie vertrek het.

Die inbrekers het die plafon beskadig.

“Sodra die mense ry en nadat die sekuriteitspatrollie verby die huis gery het vir die aand, klim hulle in die dak en wag dan daar binne tot dit donker word,” sê sy.

“Ons is nog nie seker of hulle met motors wegkom nie, omdat daar nie kameras oral is nie,” sê Lourens.

Meer onlangs is drie sulke voorvalle aangemeld, sê Lourens, maar sy vermoed dat dié modus operandi meer algemeen voorkom.

Sy beveel inwoners aan om sekuriteit by hul wonings te versterk deur ook bewegingsensors in hul dak te installeer.

You need to be Logged In to leave a comment.