Diewe breek heining af, buit tv’s, gasbottels in vlaag inbrake by skool

Die hoof van die Laerskool Silversands in Silversands sê diewe wat by die skool ingebreek het, besteel nie net die skool nie, maar ook die toekoms van die kinders.


Die hoof van die Laerskool Silversands in Silversands sê diewe wat by die skool ingebreek het, besteel nie net die skool nie, maar ook die toekoms van die kinders.

Marshall Cupido sê sedert hulle onlangs met konstruksiewerk by die skool begin het, is daar al twee keer ingebreek.

“Vir jare is die skool met rus gelaat, maar die booswigte breek nou die omheining af om by die skool in te kom. In die mees onlangse voorval is twee televisies uit klaskamers gesteel. By ’n vorige geleentheid is twee gasbottels ook gesteel. Hier is ’n vlaag van inbrake in die omgewing,” sê Cupido.

Volgens Cupido het die inbrekers die vensters heel uitgehaal. “Iemand het glo twee manne sien stap met die televisies en ons wil daarom die gemeenskap se hulp inroep om die skuldiges op te spoor. Iemand moet hulle ken,” sê Cupido.

Hy sê die inbraak ontwrig nie net die leerders se skooldag nie, maar steel hul opvoeding.

“Ons moes lank op die polisie wag en die leerders kon nie die klaskamers betree voor die polisie nie op die toneel was nie. Daarna moes hulle nog wag tot die klaskamers weer herstel en gereed vir verbruik is. Dit is belangrike onderrigtyd wat verlore gaan en nie een leerder kan dit bekostig nie,” sê hy.

Die skool het begin om van die vensters en deure te versterk in ’n poging om inbrake te verhoed.

“Ons het versekering, maar is nog nie seker of dit alle skade sal dek nie. Die gemeenskap moet eienaarskap neem van die skool en ons bystaan om dit teen ongewensde elemente te beskermer. As jy skole afbreek, breek jy die gemeenskap af.

“Met al die dinge wat aangaan moet ’n skool ’n bastion van hoop wees. Die toekomstige leiers moet hier gekweek word,” sê Cupido.

Teen druktyd het die plaaslike polisie nog nie op navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.