Die “Wit Masjiengeweer” van die Bishop Lavis-polisie lê vandag ná 40 jaar die tuig neer.
Kapt. P.G. Bothma se loopbaan het op 5 Januarie 1984 begin en hy sê hy sien daarna uit om sy aftrede te geniet.
“Ek gaan nie net op die stoep sit en op die dood wag nie. Vir nou moet ek eers fokus op my dogter se troue eersdaags en dan wil ek en my vrou bietjie deur Amerika gaan toer, maar verder as dit dink ek nog nie. Al wat ek weet, is dat ek nog jonk en vol energie is,” skerts Bothma, wat gister 60 geword het.
Bothma sê wat hy die meeste gaan mis as hy die polisie verlaat, is wanneer hy ’n saak deurvoer tot daar ’n skuldigbevinding is. “Ek sê altyd vir jong speurders dat daar voor op ’n dossier ’n spasie is waar die hof-uitslag ingeskryf moet word. Ek het gelewe vir die oomblik wanneer daar ‘skuldig’ in die spasie staan. Om ’n waterdigte saak hof toe te bring was vir my lekker,” sê hy.
Bothma het ook raad vir jong polisiebeamptes. “Jy moet ’n passie hê vir polisiewerk. Ek het vir die 40 jaar ’n passie vir my werk gehad. Dan glo ek ’n polisieman moet betyds by die werk wees en sy werk die eerste keer reg doen.
“Respek is ook vir my uiters belangrik. Jy moet dieselfde respek aan ’n verdagte toon as wat jy aan die klaer toon.
“Wanneer ek ’n verdagte ondervra, sal ek hom nie sommer net met vrae peper nie. Ek vra hom hoe dit met sy ouers gaan … persoonlike vrae. As ’n verdagte op sy gemak is, dan sal hy makliker praat,” sê hy.
En waar kom die bynaam “Wit Masjiengeweer”, oftewel Umshini Wam vandaan. “My swart kollegas het my die bynaam gegee,” lag hy.





