Die Tygerberg-kinderkoor het op Dinsdag 2 Mei in Kaapstad geland nadat hulle by die Hull Internasionale Koorkompetisie in Engeland geskitter het.
Hulle het die kinderkoor-afdeling gewen en was ook tweede in die “sacred”-afdeling.
Marli Slabbert, sekretaresse van die koor, sê hulle is baie opgewonde oor die prestasie.
Sy sê verder dit is baie lekker om tuis te wees en die ontvangs op die lughawe was wonderlik.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het saam met ouers en toeskouers die koor op die lughawe verwelkom. Marais het die koor met hul sukses gelukgewens.
Moeilike tyd
Karina Erasmus, die afrigter van die koor, sê sy is baie dankbaar vir die uitslae.
Erasmus meen “ons het ’n moeilike tyd deur Covid-19 gehad om staande te bly en om lede te werf. Dis ’n jong koor met geen kompetisie-ervaring nie en hulle het wonderlik saamgewerk en al hoe moeiliker en meer gevorderde musiek bemeester. Buiten die uitslae is ek verras deur die hoë punte wat hulle behaal het. Die musiekpersoneel is opgewonde en tevrede met die goeie sang tydens die kompetisie. ’n Mens weet nooit regtig wat om te verwag ná so ’n lang reis en die spanning van die kompetisie nie.”
‘Ons kon ons ore nie glo nie’
Volgens Erasmus is hulle egter meer verras om in die tweede plek te eindig in die gewydemusiek-afdeling omdat dit ’n oop kompetisie is vir volwasse kore en jeugkore wat baie mooi mansstemme het.
“Ons kon nie ons ore glo toe ons besef dat ons net 0,75 punte minder as die ervare wenkoor gekry het nie!
“Ek is vreeslik trots dat ons Suid-Afrika se naam hoog kon hou in Engeland en dat die koorwêreld weer kennis geneem het van die Tygerberg-kinderkoor van Suid Afrika. Ons het baie lof van verskeie dirigente en beoordelaars by die kompetisie ontvang en dit maak die koor ’n ware ambassadeur van Suid-Afrika,” sê Erasmus.
Die kompetisie het 27 kore van oor die wêreld heen laat optree, met die Tygerberg-kinderkoor die enigste een uit Afrika. Die koor het die kompetisie met twee goue diplomas afgesluit, wat hulle as die top-kinderkoor geplaas het. Dit het die koor laat kwalifiseer vir die Wêreldkoorspele, wat in 2024 in Nieu-Seeland plaasvind.
Koorspele in Nieu-Seeland
“Ons het nooit eens aan die Wêreldkoorspele in Nieu-Seeland in 2024 gedink nie. Dis baie duur om daar te kom en baie ver om daarheen te reis. Met ons wen en twee goue diplomas, kwalifiseer ons nou outomaties om aan die kompetisie deel te neem en die hele Suid-Afrika herinner ons in radio- en nuusberigte daaraan.
“Ons sal nie op ons eie die geld binne ’n jaar bymekaar kan kry nie. Dis baie duur vir die ouers om die koste te dra; ek dink dis eintlik onmoontlik. Ons kan slegs gaan deelneem indien Suid-Afrika, die Wes-Kaap en gemeenskap ons finansieel kan ondersteun. Ons is deeglik bewus dat kore nie soveel finansiële ondersteuning soos sport kry nie. ’n Mens kan egter nie ophou droom nie,” sê sy.


