Die bekroonde Hertzogprys drama van PG du Plessis ,
Die Nag van Legio, word vanaf Dinsdag 14 November by die Kunstekaap-Arena opgevoer.
Die beste van Suid-Afrika se akteurs speel in die
langverwagte herlewing van PG du Plessis se riller van die sewentigs by name
André Roothman, Gerben Kamper, Deon Lotz, Duncan Johnson, Hein Poole, Francois
Potgieter, Francois Jacobs en Riaan Visman; onder leiding van regisseur Albert
Maritz.
Die sielkundige riller wat beskou word as een van die
meesterwerke van die modern Afrikaanse teater speel af in ’n inrigting vir
sielsiekes.
Die lewe van vier pasiënte met verskillende afwykings word
onherroeplik verander met die koms van Dogoman, wat die vermoë het om mense se
geloof uit te buit. Dogoman en een van die pasiënte, Dirk Jooste kom in opstand
teen mekaar wanneer Dogoman met meesterlike manipulasie en vleitaal die ander
teen Dirk opsweep.
Wat dan ontvou is ’n spanningsvolle sielkundige riller wat
die stryd tussen goed en kwaad uitbeeld en die gehoor behoorlik laat regop sit.
Massahisterie, magspel, manipulasie en die onderwerping van
die individu is van die relevante temas wat in hierdie produksie verskyn.
Hierdie tydlose debuutdrama uit die pen van PG du Plessis is
geskryf in die laat sestigs en in 1969 word dit deur TRUK opgevoer in Pretoria.
In 1972 word die Hertzogprys aan Du Plessis, ’n student van
NP van Wyk, toegeken waarna vele ander werke volg.
Die Nag van Legio, ondersteun deur NATI (Nasionale
Afrikaanse Teater-Inisiatief), Innibos Kunstefees en Damhuis Restaurant, kan by
Kunstekaap-Arena gesien word vanaf 14 tot 19 November om 20:00;
middagopvoerings op 15 en 19 November om 15:00 en 18 November om 14:30.
Kaartjies kos R120 en kan by Computicket of Kunstekaap
Bel-‘n-Sitplek 021 421 7695 bespreek word.
Spesiale afslag vir pensioenarisse en studente is R95 vir
14:30 matinee en R110 vir aandopvoerings.
‘n Ouderdomsbeperking van 18 jaar is van toepassing.