’n Skrywer van Eersterivier het die Afrikaanse Taalraad se gesogte Bemagtiging deur Afrikaans-prys gewen.
Joanita Richter het die prys by ’n geselligheid van die taalraad se Koker-toekennings, wat in Stellenbosch gehou is, ontvang vir haar twee boeke Verse vir ’n plaaskind en Emosies in woorde (Malherbe-uitgewers). Die doel van die Koker-pryse is om erkenning te gee aan mense wat besonderse bydraes tot Afrikaans gelewer het.
Sy het haar twee boeke in 2022 gepubliseer en inspireer leerders en haar breër gemeenskap om ook meer te lees en selfs hul eie boeke in Afrikaans te skryf.
Richter sê hierdie toekenning is ’n bewys van hoe iemand van Eersterivier ook raakgesien kan word.
“Ek is trots om te kan sê ek is van Eersterivier. Dit was ’n jaar vol uitdagings. Daar was goeie en slegte tye en tog, as ek terugkyk, dan sien ek hoe God se hand in alles was wat ek gedoen het,” sê Richter.
Dit is ook nie die eerste keer dat Richter vir haar skryfwerk vereer word nie. Sy is vroeër vanjaar vereer as Padlangs se beste tema-digter en het die AfriCAN honoree-prys ontvang. “Dié toekennings laat my besef al werk dinge nie altyd uit soos ons ek dit beplan nie, het God altyd iets beter vir ons. Ek is nie iemand wat werk vir trofeë nie. Ek skryf en help oor dit my passie is. Ja, dit voel goed wanneer ’n mens vereer word en ek is dankbaar daarvoor. Tog moet ons nooit vergeet waar ons vandaan kom nie,” sê Richter.
Sy sê sy wil ander bemoedig om die eerste tree te gee. “Moenie op ’n hopie sit nie. Moenie kyk na jou omstandighede nie – staan op en reik uit. Gaan na kolleges of universiteite en doen navrae oor studies en hou aan om jou CV uit te stuur. Moet nooit moed opgee nie,” sê sy.





