Lorinda Smit se gesig straal van trots wanneer sy praat oor die Hoërskool DF Malan se tuinwinkel en tuinklub – ’n projek wat ver bo gewone skoolaktiwiteite uitgereik het om ’n ware gemeenskapsinisiatief te word.

Wat as ’n skoolprojek begin het, het nou gegroei tot ’n florerende tuinwinkel wat nie net die plaaslike gemeenskap van vars organiese groente en kruie voorsien nie, maar selfs plaaslike SPAR-winkels bedien.

“Ons is so trots dat ons nou eksklusiewe verskaffers is aan SPAR Boston en TOPS, asook Bellville SPAR en TOPS,” vertel Smit, wat in beheer van die tuinklub en tuinwinkel is. “Hulle het dadelik ons hande gevat om ’n vennootskap te vorm. Saam maak ons regtig ’n verskil!”

Die projek leef van gemeenskapsbetrokkenheid. Smit vertel hoe mense van oral bydraes maak – van plantjies by basaars tot ’n tannie se kosbare clivias. “Dit is oorweldigend om te sien hoe die gemeenskap uitreik en help,” sê sy.

Maar vir Smit gaan dit om veel meer as net tuinmaak. “Hierdie projek bied ’n platform vir ons kinders om entrepreneuriese vaardighede en lewenslesse te leer. Dit is werklike entrepreneurskap wat inspireer en betrek.”

Al die opbrengste van die tuinwinkel word gebruik vir die opgradering van die skoolterrein en die verbetering van fasiliteite. Smit benadruk dat sy hierdie werk onbaatsugtig doen, sonder enige persoonlike gewin.

Die tuinklub se filosofie sentreer rondom die begrip “omarming” – om mekaar en die gemeenskap te ondersteun en te help, selfs vir diegene wat nie direk deel van die klub is nie.

“Mense waardeer die kennis en toewyding wanneer hulle met my in die tuinwinkel praat,” sê Smit. “Ek voel persoonlik betrokke en deel van hierdie gemeenskap.”

Vir Smit is die sukses van die projek nie net te danke aan harde werk nie. “Ek glo daar is ’n hoër hand in die sukses van hierdie projek,” sê sy nederig.

Annalise Putten van SPAR noem op haar beurt: “Ons is baie opgewonde om deel te kan wees van hierdie fantastiese inisiatief. As Boston en Bellville SPAR probeer ons so veel moontlik by ons gemeenskap hier in Bellville betrokke te wees. Ons wil graag hê die gemeenskap moet DF Malan ondersteun.”

Die DF Malan RvR-tuinwinkel is ’n inspirerende voorbeeld van hoe skole en gemeenskappe saam kan werk om betekenisvolle verandering te bewerkstellig – een plantjie op ’n slag.

Dié tuinwinkel is oop vir die publiek.

Kontak die skool vir meer inligting oor hul vars organiese produkte en hoe jy kan help om hierdie gemeenskapsinisiatief te ondersteun.

Vir meer inligting en om donasies te maak, kontak Lorinda Smit by 064 694 4930.

You need to be Logged In to leave a comment.