Dit is amper moeilik om aan Bellville te dink sonder die Hoërskool DF Malan.
Daar is egter ’n klein groepie wat nog kan vertel hoe hulle self gesien het hoe die skool tot stand gekom het.
Die skool, wat in 2024 sy 70ste bestaansjaar vier, het ’n “stormagtige en woelige begin” gehad, sê Arinda Aggenbach van die alumni-kantoor van die skool – gepas vir die Kaap van Storms, waar dit gesetel is.
Die skool het eintlik in 1951 ontstaan toe die destydse regering wetgewing aanvaar het wat skool vanaf 1951 tot graad 9 (standerd 7) verpligtend gemaak het.
“Eensklaps moes daar, in die skiereiland alleen, vir 80 000 leerders plek gevind word!” sê sy.
Boikot
Die Laerskool Bellville het besonder baie probleme ervaar en sou nie maklik vir soveel kinders kon plek maak nie.
In daardie stadium was die skoolgebou in ’n slegte toestand.
“Agt van die 10 klaskamers is nie opgerig nie; daar was nie genoeg skoolbanke nie en die puttoiletgeriewe was onvoldoende.”
Sy verwys na ’n ou koerantberig in Die Burger van 18 Januarie 1951, wat lui die “ouers (van die Laerskool Bellville-leerders) is siek en sat vir die gesloer, beloftes en verskonings”.
Al oplossing was ’n protes. En dit is die protes wat heel moontlik tot die hedendaagse Hoërskool DF Malan gelei het. “Protesvergaderings is gehou, ’n aksiekomitee is gekies en ouers het besluit om hul kinders vir ’n week tuis te hou,” sê Aggenbach.
“Dit was suksesvol in die sin dat slegs 80 uit sowat 750 leerders skool toe is.”
Hoewel regeringsamptenare ongelukkig was, het hulle ’n bykomende twee laerskole gebou en besluit om ’n tweede hoërskool in Bellville te bou.
Eerste matriekgroep
“Op 1 Januarie 1954 is die laerskool omskep in ’n middelbare skool (’n skool wat onderrig tot standerd 8 sou gee), die Sekondêre Skool Bellville.”
Op 20 Januarie 1954 was die groot dag. Altesaam 60 Afrikaanssprekende graad 8-leerders het by die gebou van die Primêre Skool Bellville (tans die polisiekantoor) aangemeld.
Hierdie groep was die eerste matriekklas.
“Die nuutaangestelde skoolhoof, dr. Danie Brink, moes toesien dat die skool geleidelik in ’n hoërskool omskep word.”
Die skool het uiteindelik in 1957 ’n volwaardige hoërskool geword.
Leerders het hul plek in die nuwe skoolgebou (die huidige perseel in Langenhovenweg) ingeneem en die skool het die naam, die Hoërskool DF Malan, begin gebruik.
“Van die begin het die skool op akademiese gebied uitgeblink,” sê Aggenbach.
“Toe die eerste matriekklas in 1958 hul uitslae ontvang, is daar met groot trots bekend gemaak dat die eerste hoofseun, Schalk van der Merwe (wyle prof. Van der Merwe), die derde plek op die Kaapse merietelys beklee het.”
Die skool het sedertdien ’n klomp toekennings ontvang en verskeie bekende alumni getuig hiervan.