Die Stad Kaapstad versoek ouers van leerders aan die Hoërskool DF Malan om nie hul kinders aan die oorkant van Frans Conradie-rylaan af te laai nie.
’n Graad 9-leerder is op Donderdagoggend 14 November deur ’n voertuig getref toe hy en ’n maat Frans Conradie-rylaan op pad skool toe oorgesteek het.
Die seun het ligte beserings opgedoen.
Die skoolhoof, Sias Conradie, het aan TygerBurger bevestig die seun was onderweg om ’n Afrikaans-eksamen te skryf.
“Ouers (onder wie een gelukkig ook in ’n mediese beroep) en skoolpersoneel was baie vinnig op die toneel om hulp te verleen en die situasie op te som. Nooddienste is onmiddellik ontbied.”
Veiliger aflaaipunte
Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, meen ouers moet intussen hul kinders op veiliger plekke by die skool aflaai, aangesien sommige bestuurders geneig is om die spoedgrens te ignoreer.
Conradie sê die skool se leerders word periodiek versoek om die pad eerder by die verkeerslig op die hoek van Bostonstraat en Frans Conradie-rylaan oor te steek. “Ons is baie dankbaar dat die betrokke leerder nie ernstig beseer is nie.”
’n Bron wat TygerBurger oor die voorval ingelig het, vertel ook die debat oor voetganger-veiligheid in Frans Conradie-rylaan kom al jare aan.
“Die groot uitdaging hier is dat daar geen voetoorgang of verkeerslig voor die skool is nie. Hierdie voorval was ’n ongeluk wat net gewag het om te gebeur,” sê die bron.
Conradie sê egter dat daar jare gelede ’n verhewe voetoorgang voor die skool was, maar daar was baie meer ongelukke en dit is ná ’n ondersoek deur die Stad verwyder. “Daar is al verskeie ondersoeke van stapel gestuur om ander moontlikhede vir die stuk pad te oorweeg, maar na bewering laat verkeersregulasies nie ’n verkeerslig toe nie en die koste-implikasies van ’n brug was blykbaar te groot.”
Volgens Quintas was die Stad in Mei vanjaar in kontak met die skool, maar dit was in verband met verkeerskalmering. “Frans Conradie-weg is ’n Klas 2-pad en kwalifiseer dus nie vir verkeerskalmering (soos ’n verhoogde voetgangeroorgang), volgens die verkeerskalmeringsbeleid nie,” sê hy.
Hy sê die Stad se vervoerbeplanning- en netwerkbestuursafdeling het vroeër vanjaar ’n versoek ontvang om ’n verkeerslig by die kruising van Frans Conradie-rylaan en 12de Laan, Bellville (die ingang na die skool), te ondersoek.
“Die Stad het die saak so gou moontlik ondersoek en het onlangs die verslag voltooi. Die aanbeveling van die verslag is dat ’n verkeerslig by daardie plek om veiligheidsredes geïnstalleer word.”
Die Stad Kaapstad versoek ouers van leerders aan die Hoërskool DF Malan om nie hul kinders aan die oorkant van Frans Conradie-rylaan af te laai nie