Hannes Oosthuizen kan nie wag om die hart van die DF-kind te beleef nie.
Hannes Oosthuizen kan nie wag om die hart van die DF-kind te beleef nie. Credit: Herman Booyens

Hannes Oosthuizen, die nuwe hoof van die Hoërskool DF Malan, praat openhartig oor sy visie vir die skool, sy agtergrond in die onderwys en wat hom na hierdie besonderse pos gelei het.

Wanneer hy gevra word waarom hy gekies het om by die Hoërskool DF Malan te kom werk, antwoord Oosthuizen eerlik: “Dit was maar ‘n bestiering. Geleenthede soos hierdie laat ‘n mens baie dink oor die verskil wat jy as onderwyser kan maak. Daar was ook ‘n oproep of twee wat met ‘n mens se hart gepraat het.”

Die onderwys het hom gekies, vertel hy, eerder as dat hy self die keuse gemaak het, sê hy eenvoudig wanneer hy gevra word waarom hy besluit het om ‘n onderwyser te word.

Oosthuizen bring indrukwekkende kwalifikasies na sy nuwe pos.

Hannes Oosthuizen met sy gesin. Sy vrou, Gerda, seun Nico (10, links), dogter Adalé (8) en sy jongste seun, Gideon (4, middel).

Hy het aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer, waar hy sy BCom (Regte) en BCom Hons (Ekonomie) voltooi het. Daarna het hy sy PGCE (Post Graduate Certificate in Education) aan Unisa voltooi en laastens ‘n MBA deur die UV se sakeskool.

As onderwyser het hy gespesialiseer in ekonomie, besigheidstudies, asook Afrikaans Huistaal, met ekonomie wat steeds sy gunsteling bly.

Met 17 jaar onderwysondervinding bring Oosthuizen ‘n rykdom van ervaring na sy nuwe rol. Hy het in 2009 by die Hoërskool Witteberg begin en het in 2020 hoof geword by sy alma mater. Van 2012 was hy amptelik in ‘n departementele posvlak 1-pos en is in 2019 as adjunkhoof aangestel.

Hy was ook vir verskeie jare die dissiplinêre hoof by Witteberg en die hoof van krieket.

Tans dien hy in die provinsiale uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie en was vir die afgelope 10 jaar die voorsitter van Thabo Mofutsanyane-hoërskolekrieket.

Lewenslesse en leierskap

Oosthuizen se benadering tot leiersopleiding is pragmaties. “Nee, ek het self in die rooisee geswem en deur middel van foute geleer. My studies het my ook op baie voorberei,” vertel hy wanneer hy gevra word oor bestuurskursusse.

Die glimlagte van kinders en die kopknik ná ‘n goeie kolfbeurt was die toekennings waarvoor ek gewerk het. Die res dra min gewig

Sy onderwysfilosofie is eenvoudig, maar diepgaande: “Doen alles met ‘n eerlike en opregte hart.”

Wanneer dit kom by inspirasie, erken Oosthuizen dat hy elke dag by sy kollegas leer. “Daar is verskeie en ek leer steeds elke dag by al die kollegas saam met wie ek werk.

“Coenie Venter, ons vorige skoolhoof en tans hoof van die Hoërskool Durbanville, het my blootstelling aan baie gebied en my deurgaans in my groei ondersteun.”

Sy persoonlike ondersteuningstelsel is ook van kardinale belang. “Ek dink elke moontlike ervaring in die onderwys en lewe berei ‘n mens voor vir dit wat môre kan bring. My ouers se ondersteuning en opvoeding was ook goud werd. My vrou, Gerda, hou ook elke dag my hart vas en inspireer my!”

Sy benadering tot erkenning spreek van nederigheid. “Die glimlagte van kinders en die kopknik ná ‘n goeie kolfbeurt was die toekennings waarvoor ek gewerk het. Die res dra min gewig,” sê hy wanneer hy gevra word oor spesiale toekennings of prestasies.

Oosthuizen se visie vir die Hoërskool DF Malan is ambisieus, maar bereikbaar: Om sy stempel as ‘n besondere onderwysinstelling net verder af te druk en te wys dat die buitengewone bereik kan word; om alle aspekte van die skool te versterk waar moontlik.

Hy identifiseer wel sekere uitdagings: “Dit is soms te maklik om te vergelyk en te moeilik om te droom,” sê hy wanneer hy gevra word oor die grootste hindernisse wat oorkom moet word.

Wat hy die meeste verwag van sy nuwe pos, som dit alles op: “Om die hart van dié DF-kind te beleef!”

Buite die onderwys sou Oosthuizen “baie graag ‘n skrywer of professionele krieketspeler wou wees”, en hy sou graag geskiedenis en politieke wetenskap bestudeer as hy weer die kans sou kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article