Dele van Bothasig sonder water gelaat nadat pype bars

Eers moes inwoners in Bothasig verlede maand sonder krag klaarkom. Nou kla inwoners hier dat hulle onlangs boonop sonder water ook moes klaarkom nadat ’n reeks waterpype blykbaar in die gebied gebars het.


Eers moes inwoners in Bothasig verlede maand sonder krag klaarkom. Nou kla inwoners hier dat hulle onlangs boonop sonder water ook moes klaarkom nadat ’n reeks waterpype blykbaar in die gebied gebars het.

Die gebied is verlede maand in donkerte gehul nadat Eskom-kragkabels langs die N7-snelweg gevandaliseer en gesteel is. Die probleem is intussen herstel.

Mario Borchards, voorsitter van die Bothasig-inwonersvereniging (BRA), sê egter ’n nuwe probleem het nou kop uitgesteek. Hy sê ’n reeks waterpype het onlangs in die gebied gebars – onder meer in Vryburger- en De Grendel-rylaan en Coornhoopstraat. Die waterpype is herstel, maar die BRA kla dat slote en gate nie behoorlik toegemaak word nie. Een van dié gate is geleë voor die Bothasig-gemeenskapsdagsentrum op die hoek van Swellengrebellaan en De Grendel-rylaan.

Bekommerd

“Ons as BRA is erg bekommerd oor die voortslepende mislukkings in waterpyp-infrastruktuur in Bothasig, wat nou breekpunt bereik het nadat vyf waterpype in die gemeenskap gebars het,” het Borchards in ’n skrywe aan die koerant gesê.

Hy sê die gebarste waterpype het oor groot dele ontwrigting veroorsaak, dat ’n belangrike hulpbron vermors is, en dat hierdie voorval ook die noodsaaklikheid vir ingryping deur die relevante owerhede beklemtoon.

“Dis nie ’n geïsoleerde voorval nie. Vir jare nou al moes inwoners van Bothasig herhaaldelik gebarste waterpype verdra, wat soms tot ’n groot waterverlies en ongemak lei. Die situasie tans is nie volhoubaar nie en dit is duidelik dat die water-infrastruktuur in ons gebied verouderd is en dringend opgeknap moet word,” sê Borchards.

Hy meen wat dinge vererger, is die betreurenswaardige toestand waarin die gebied gelaat word, nadat die waterpype herstel is.

“Paaie en sypaadjies word nie behoorlik herstel nie, ongelyke oppervlakke word agtergelaat, die teer verkrummel en dit is ’n gevaar vir motoriste en voetgangers,” sê Borchards.

Die BRA versoek nou dat daar spoedig opgetree word en dat die gebied se waterpyp-infrastruktuur hersien word, om sodoende swak punte te identifiseer; dat die paaie en sypaadjies ten volle herstel word ná herstelwerk; en deursigtigheid deur die Stad Kaapstad oor sy planne om sulke situasies in die toekoms te voorkom, en ’n langtermyn oplossing moet ook aan hulle verskaf word.

Bothasig se gemeenskap verdien beter, sê Borchards.

Stad skenk aandag aan kwessie

Miquette Temlett, wykraadslid, sê sy is bewus van die situasie in die gebied rakende die waterpype en die herstelwerk.

Sy het ’n kennisgewing (gedateer 25 November), wat deur die Stad se departement van water en sanitasie vrygestel is, met die gemeenskap op haar sosialemedia-blad gedeel. Daarin sê die departement hy is tans besig om die agterstand in slote wat agtergelaat is as gevolg van die werk aan waterpype te herstel.

Die departement sê ’n verhoogde begroting van R55 miljoen in die 2024-’25 boekjaar is bewillig vir dié herstelwerk. ’n Tenderproses is ook aan die gang en is tans in sy finale fase, en daar word verwag dat die herstelwerk in die eerste kwartaal van 2025 sal begin.

Borchards sê hulle sal voortgaan om die relevante owerhede verantwoordbaar te hou, totdat die kwessies uitgesorteer is.

TygerBurger wag nog op kommentaar van die Stad Kaapstad.

You need to be Logged In to leave a comment.