De Novo kry eerste openbare biblioteek ná jare se stryd

Die droom van ’n eie openbare biblioteek het verlede maand waar geword vir die klein landelike gemeenskap van De Novo, net buite Kraaifontein.


Die droom van ’n eie openbare biblioteek het verlede maand waar geword vir die klein landelike gemeenskap van De Novo, net buite Kraaifontein.

Die vestiging van die nuwe fasiliteit het nie net boeke en leerbronne na die gemeenskap gebring nie, maar ook die hoop op groter toegang tot opvoedkundige en kulturele geleenthede vir inwoners.

Met die klem op die belangrikheid van lees, is dié historiese oomblik op Dinsdag 1 Oktober deur die gemeenskap en plaaslike gemeenskapsleiers gevier.

“De Novo het 79 jaar gelede ontstaan toe veterane van die Tweede Wêreldoorlog hulle daar gevestig het. Vandag is De Novo die tuiste van die Laerskool Lawrencia, die De Novo-rehabilitasiesentrum vir verslaafdes en die veterane se nasate,” vertel die gemeenskapswerker Hettie van Wyk.

Die inwoners is egter ver van openbare vervoer en het min geleenthede vir ontspanning, opleiding en werksgeleenthede.

In 2015 het gemeenskapsleiers die departement van kultuursake en sport genader vir hulp om ’n biblioteek te vestig.

Die planne het op dreef gekom, maar is deur die Covid-pandemie tot stilstand gedwing. Maar op Dinsdag 1 Oktober is die biblioteek uiteindelik geopen.

Opleiding

“Die departement van kultuursake en sport het rakke en boeke voorsien en die lokaal kom inrig en ’n plaaslike inwoner is aangestel as die bibliotekaresse nadat sy opleiding van die departement ontvang het. Kraaifontein Hardewarewinkel het al die verf geskenk en inwoners het ingespring om die ou kapel te verf om nes ’n openbare biblioteek te lyk.”

Cherezaan Basadien, ’n bibliotekaresse van die departement en haar span het onverpoos gewerk om alles binne drie dae reg te kry vir die opening.

Nuwe leesstof

In haar toespraak het sy die gemeenskap aangespoor om te lees “van die wiegie tot die graf” en ook onderneem om gereeld nuwe leesstof te voorsien.

Russel Kinnear, voorsitter van die gemeenskapsforum, sê die biblioteek gaan nie net boeke bevat nie, maar sal ook binnekort rekenaars met internetverbinding kry, ’n klaskamer waar leerders kan studeer, ’n hoekie waar die kleinspan na voorlesings van stories kan kom luister en ’n sopkombuis om ywerige lesers se magies te vul.

Planne vir skaakkompetisies, verdere opleiding en die huisves van die geskiedenis van De Novo is ook in die vooruitsig. “De Novo-biblioteek gaan nie net ’n aanwins wees vir De Novo-inwoners en leerders van die Laerskool Lawrencia nie, maar ook vir die omliggende plaasgemeenskap,” sê Kinnear.

  • Die gemeenskapskomitee benodig nog skenkings soos ’n lugverkoeler, brandblussers, vloerbedekking en vyf tafeltjies vir die rekenaars. Indien jy ’n skenking wil maak, bel Russel Kinnear by 084 634 6571.

You need to be Logged In to leave a comment.